Nuus 12:00
BULLETIN 2 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grondwetkenner Pierre de Vos sê ‘n ondersoek na Iran se rol in Suid-Afrika se vlootoefening is moontlik onwettig
# Bek-en-klouseer breek ook uit in Botswana
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter hoop op verbeterings in Perth
# Die Grondwetkenner Pierre de Vos sê die raad van ondersoek na Iran se deelname aan Suid-Afrika se vlootoefeninge is moontlik in stryd met die Verdedigingswet. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het oudregter Bernard Ngoepe aangestel om die ondersoek te lei met die ondersteuning van oudregters Monica Leeuw en Kathleen Satchwell, en Vloot-offisier Patrick Duze. De Vos sê in ‘n meningstuk vir News24 die wet laat niemand wat nie in diens van die Departement van Verdediging is nie, toe om op sy ondersoekrade te dien nie.
# Die DA in die Noord-Kaap het die regering versoek om maatreëls te versterk om bek-en-klouseer uit te hou. Uitbrekings is aangeteken in drie buurprovinsies en Reinette Liebenberg van die DA sê provinsiale leierskap en nasionale pogings moet ooreenstem, insluitend inentingsveldtogte en biosekerheidstoepassing. Sy vra die LUR vir Landbou, Lebogang Motlhaping, om doeltreffende beheermaatreëls in te stel, dierebeweging te reguleer en die provinsie se vee, voedselsekerheid en landbou-ekonomie te beskerm:
Intussen is ‘n uitbreking van bek-en-klouseer bevestig in die noordoostelike streek van Botswana, naby die Zimbabwiese grens. Owerhede sê die siekte is in die Jackalas-one-village in Masunga ontdek. Laboratoriumtoetse het bek-en-klouseer in beeste bevestig, maar die aantal gevalle word nog bepaal. Die regering het veebewegingsbeperkings, streng kwarantyn en verhoogde toesig ingestel en met bewusmakingsveldtogte begin om die verspreiding te beperk.
# Rugby: Die afrigter van die Sewes-Springbokke, Philip Snyman, sê die gebrek aan besluitneming en kliniese afronding was die grootste teleurstellings vir hulle in die naweek se wêreldreekstoernooi in Singapoer. Die Blitsbokke het in die halfeindronde teen Frankryk vasgeval en toe vierde geëindig toe hulle teen Nieu-Seeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek. Snyman sê hulle gaan probeer om foute reg te stel in Perth, Australië:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-925-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-643-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gesondheidsdepartement begin vandag sy inentingsveldtog teen die menslike papilloomvirus as deel van voortgesette pogings om meisies later in hul lewe teen servikale kanker te beskerm. Suid-Afrika het jaarliks ‘n rekordgetal gevalle van servikale kanker en verwante sterftes. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê meer as vyf-duisend-700 gevalle van servikale kanker word jaarliks in die land aangemeld, terwyl meer as drie-duisend vroue aan die gevolge daarvan sterf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….