Nuus 11:00
BULLETIN 2 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grondwetkenner Pierre de Vos sê ‘n ondersoek na Iran se rol in Suid-Afrika se vlootoefening is moontlik onwettig
# Minister Steenhuisen waarsku hofsake kan die verkryging van bek-en-klouseer-entstof laat ontspoor
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter hoop op verbeterings in Perth
# Die Grondwetkenner Pierre de Vos sê die raad van ondersoek na Iran se deelname aan Suid-Afrika se vlootoefeninge is moontlik in stryd met die Verdedigingswet. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het oudregter Bernard Ngoepe aangestel om die ondersoek te lei met die ondersteuning van oudregters Monica Leeuw en Kathleen Satchwell, en Vloot-offisier Patrick Duze. De Vos sê in ‘n meningstuk vir News24 die wet laat niemand wat nie in diens van die Departement van Verdediging is nie, toe om op sy ondersoekrade te dien nie.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, waarsku dat hofsake die dringende verkryging en verspreiding van entstof teen bek-en-klouseer kan laat ontspoor. Die organisasies Sakeliga, Saai en Vrystaat Landbou het regstappe ingestel om vee-eienaars te magtig om entstof privaat toe te dien. Steenhuisen sê dis jammer dat hulle die Wet op Dieresiektes met regstappe wil aanval, terwyl dié wet die regering in staat stel om entstowwe te bekom vir die inwerkingstelling van die bek-en-klouseer-program.
# Die Gautengse regering het kommer uitgespreek oor die DA se jongste dreigement om ‘n regshersiening aan te vra oor die verkeersbewaarders se verklaring tot vredesbeamptes. Die party beskuldig premier Panyaza Lesufi se regering dat hy voortdurend kortpaaie kies in sy pogings om die beamptes, wat as amaPanyazas bekendstaan, te wettig. Die provinsiale regering se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê deur die beamptes amptelik tot vredesbeamptes te verklaar, verbeter hul vermoë om spesifieke wetstoepassingsfunksies te vervul:
# Rugby: Die afrigter van die Sewes-Springbokke, Philip Snyman, sê die gebrek aan besluitneming en kliniese afronding was die grootste teleurstellings vir hulle in die naweek se wêreldreekstoernooi in Singapoer. Die Blitsbokke het in die halfeindronde teen Frankryk vasgeval en toe vierde geëindig toe hulle teen Nieu-Seeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek. Snyman sê hulle gaan probeer om foute reg te stel in Perth, Australië:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-561-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-541-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse sangeres Tyla het haar tweede Grammy-toekenning in drie jaar gewen in die Beste Afrika-musiekuitvoeringskategorie vir haar treffer-enkelsnit, Push 2 Start. Die 24-jarige megaster het dieselfde toekenning in 2024 gewen vir haar treffer, Water. Intussen het Kendrick Lamar, wat met nege die meeste benoemings ontvang het, vyf gewen en die mees bekroonde kletsrymer in Grammy-geskiedenis geword. Bad Bunny spog met drie toekennings, onder meer Album van die Jaar. Billie Eilish het Lied van die Jaar gewen vir Wildflower, en Olivia Dean is bekroon as Beste Nuwe Kunstenaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….