Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Chikunga sê die ekonomiese uitwerking van padsterftes beloop miljarde rand
# Die Wes-Kaap het 26 voorvalle van inbraak en opsetlike beskadiging by 24 skole aangeteken
# En, gemengde gevegskuns: Die UFC-kampioen Dricus du Plessis keer môre terug na Suid-Afrika
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het onthul daar was gedurende die 2023/2024-feestyd een-duisend-184 noodlottige motorongelukke, wat ‘n afname van 2,3-persent is teenoor die vorige jaar se een-duisend-212 voorvalle. Die afname word toegeskryf aan verskerpte wetstoepassingsoperasies. Die Oos-Kaap het sy geteikende vermindering in sterftes oortref met 18,6-persent. Chikunga het op ‘n nuuskonferensie gesê die feestyd het uitdagings ervaar met swaar reënval en storms, wat tot vermybare ongelukke gelei het, met sommige bestuurders wat nie hul spoed aangepas het nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê al het sy departement oor die Desembervakansie sekerheid aan 486 skole verskaf, het die provinsie steeds 26 voorvalle van inbraak en opsetlike beskadiging by 24 skole aangeteken. In 2022 is 48 voorvalle by 42 skole aangemeld. Die departement is nietemin teleurgesteld omdat die skole weereens die spit moes afbyt. Maynier sê items wat gesteel of beskadig is, wissel van gassilinders en kos tot rekenaars en kameras:
# Amerika het ‘n beroep op Israel gedoen om onskuldige mense in hospitale in Gaza, mediese personeel en pasiënte, te beskerm. Dit volg nadat Israeliese magte ʼn hospitaal bestorm en nog een beleër het toe hulle gister gevorder het tot diep binne die westelike deel van Khan Younis. Volgens Israel is vegters van Hamas aktief naby hospitale, iets wat Hamas en mediese personeel ontken. Inwoners sê die bombardement uit die lug en van die land en die see was die mees intense in die suide van Gaza sedert die oorlog in Oktober begin het.
# Krieket: Nog twee lede van die Australiese toetsgroep het voor die tweede toets teen die Windies Covid-19 opgedoen. Die veelsydige Cameron Green en die afrigter, Andrew McDonald, is gediagnoseer nadat die kolwer, Travis Head, vroeër siek geword het. Krieket Australië het bevestig Green en McDonald word afgesonder van die groep totdat hulle negatief toets vir die virus, terwyl Head reeds negatief getoets het en weer by sy spanmaats aangesluit het. Die tweede en laaste toets begin môre in Brisbane nadat Australië die eerste kragmeting in Adelaide met tien paaltjies beklink het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-170-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Die nuutgekroonde UFC-middelgewigkampioen, Dricus du Plessis, kom môreoggend vroeg in Suid-Afrika aan. Hy sal half-agt op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng land. Du Plessis het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaner te word wat die kampioenskap gewen het toe hy die verdedigende kampioen, Sean Strickland van Amerika, in Toronto, Kanada, geklop het. Die geveg, wat Sondagoggend in die Scotiabank Arena plaasgevind het, het uitgeloop op Du Plessis se oorwinning met ‘n verdeelde beslissing van 48-47. Dit was sy sesde agtereenvolgende sege.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….