Nuus 07:00
BULLETIN 2 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê sy leierskap van die EFF word nie bedreig nie
# Die Departement van Gesondheid besweer vrese oor die Nipah-virus
# En rugby: Die Blitsbokke eindig vierde by die Singapoer-sewes
# EFF-leier Julius Malema het die versekering gegee dat sy EFF-leierskap nie bedreig word nie. Hy is skuldig bevind aan talle aanklagte wat met vuurwapens verband hou, insluitend die onwettige besit en afvuur van ‘n vuurwapen by ʼn 2018-saamtrek. Slotbetoë en vonnisoplegging is tot 15 April uitgestel. Malema het gister in Boksburg by die party se tweede volle vergadering gesê al word hy uit die Parlement verwyder, sal hy steeds die party lei:
# Die Departement van Gesondheid het Suid-Afrikaners aangespoor om kalm te bly te midde van kommer oor ‘n moontlike uitbreking van die Nipah-virus. Die soönotiese virus word versprei deur diere soos vlermuise, besmette voedsel of mens-tot-mens-kontak. Gesondheidswoordvoerder Foster Mohale sê Suid-Afrika word nie geraak nie, die risiko is laag en daar is geen rede tot paniek nie. Hy het beklemtoon dat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes die situasie noukeurig monitor en laboratoriumhulpbronne opgedateer het om die virus op te spoor, indien dit plaaslik sou verskyn.
# Numsa het aangekondig sy nasionale woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, het bedank met onmiddellike ingang, na doodsdreigemente wat verbind word met haar rol in die vakbond. Die bedanking volg te midde van toenemende spanning oor arbeidskwessies en vakbondbedrywighede, maar besonderhede oor die dreigemente is nie bekendgemaak nie. Die vakbond het haar bedanking bevestig te midde van groeiende kommer. Hlubi-Majola is bekend vir haar standpunt oor werkers se regte in Suid-Afrika. Haar plaasvervanger moet nog aangekondig word.
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, waarsku stadige kapitaalbesteding en stygende skuldvlakke kan dienslewering ondermyn indien dit nie gou aangespreek word nie. Hy het verslag gedoen oor die munisipale finansies vir die eerste helfte van die 2025-2026-boekjaar. Maile sê in Desember 2025 het die provinsie se munisipaliteite 165,7-miljard-rand geskuld. Hy sê huishoudings is verantwoordelik vir 73,3-persent, kommersiële instellings vir 23,2-persent en regeringsdepartemente vir drie-persent:
# Israel sê hy staak Dokters Sonder Grense, ook bekend as MSF, se humanitêre operasies in Gaza. Die organisasie weier om ʼn lys name van sy Palestynse personeel te verskaf. Israel het in Desember aangekondig dat hy 37 hulporganisasies in Gaza gaan verbied omdat hulle nie dokumente oor hul plaaslike en internasionale werkers verskaf nie. Volgens Israel het sommige in MSF bande gehad met die gewapende groepe, Hamas en Islamitiese Djihad. MSF sê hy is bekommerd oor personeel se veiligheid en ʼn gebrek aan versekering oor hoe die inligting gebruik sal word.
# Rugby: Die Blitsbokke het gister by die Singapoer-sewes vierde geëindig na ʼn naelskraapse nederlaag van 14-12 teen Nieu-Seeland in die uitspeelwedstryd vir derde plek. Albei spanne het twee drieë gedruk, maar ʼn onsuksesvolle doelskop het die uitslag bepaal. Suid-Afrika het in die halfeindstryd met 12-5 teen Frankryk verloor. Fidji is as kampioene gekroon nadat hulle Frankryk met 21-12 verslaan het. In die vrouekompetisie se eindstryd het Nieu-Seeland die Australiërs met 36-7 verpletter. Die Wêreldrugby-sewesreeks verskuif die naweek na Perth, Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-587-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-726-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….