Nuus 13:00
BULLETIN 1 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valkehoof in KwaZulu-Natal Lesetja Senona is geskors en sy elektroniese toestelle is gekonfiskeer
# Jacob Zuma word na bewering verbind met Epstein in nuut vrygestelde Amerikaanse lêers
# En krieket: Die Protea-veteraankolwer David Miller is gereed vir die T20-Wêreldbeker
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, is geskors. Senona se regspan het veiligheidskommer uitgespreek nadat hy uit sy kantoor begelei en sy elektroniese toestelle gekonfiskeer is, na bewering in opdrag van die KZN Polisiekommissaris Nhlanhla Mhkwanazi. Volgens berigte is Senona gister deur provinsiale SAPD-beamptes na sy woning gevolg. Hy word geïmpliseer in ‘n hegte verhouding met die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala, na sy getuienis voor die Madlanga-kommissie verlede week. Senona se regspan het formeel met die waarnemende Valke-hoof Siphesihle Nkosi geskakel en ‘n verduideliking gevra aangesien geen formele skorsingskennisgewing gegee is nie.
# Nuwe onthullings deur die Amerikaanse Departement van Justisie toon oudpresident- en MK-partyleier, Jacob Zuma, word verbind met die ontslape veroordeelde seksoortreder, Jeffrey Epstein. Daily Maverick berig e-posse dui aan Epstein het ‘n intieme aandete vir Zuma in Londen gereël terwyl hy Brittanje in 2010 amptelik besoek het op uitnodiging van koningin Elizabeth die Tweede. Die dokumente vorm deel van miljoene bladsye wat verlede week vrygestel is. Daar was voorheen geen bekende verbintenis tussen Zuma en Epstein nie. Die verslag meld ander bekende Suid-Afrikaners verskyn ook in die lêers.
# Die direkteur van Wise4Afrika, Brenda Madumise-Pajibo, sê die Regterlike Dienskommissie het die sekretaresse van die Oos-Kaapse regter-president, Andiswa Mengo, in die steek gelaat, en beklemtoon haar klagte drie jaar gelede het nie veel optrede opgelewer nie. Dit volg ná ‘n uitspraak deur die Regterlike Gedragstribunaal waarin die Oos-Kaapse regter-president Selby Mbenenge skuldig bevind is aan wangedrag weens ‘n uitlokkende verhouding by die werk, maar vrygespreek is op aanklagte van seksuele teistering. Sy sê die saak beklemtoon die gebrekkige hantering van klagtes oor wangedrag by die werk:
# Honderde Deense burgers het Saterdag voor die Amerikaanse ambassade in Kopenhagen vergader ter ondersteuning van veterane wat sê president Donald Trump se opmerking oor Europese bondgenote in die oorlog in Afghanistan was ‘n belediging. Denemarke was een van die belangrikste bondgenote in die Amerikaanse oorlog in Afghanistan. Die land het 44 soldate verloor, per capita gelykstaande aan dié van die Amerikaners. Trump se opmerkings het woede in Europa veroorsaak, met Brittanje se eerste minister, Keir Starmer, wat dit as beledigend en skrikwekkend beskryf het.
# Krieket: Die Protea-middelorde-kolwer David Miller is gereed vir die 2026 Mans T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka. Die ervare linkskolwer het ‘n fiksheidstoets geslaag na ‘n besering wat hy opgedoen het terwyl hy Paarl Royals in die SA20 verteenwoordig het. Miller se terugkeer kom as ‘n tydige hupstoot vir Suid-Afrika, met die 36-jarige wat na verwagting ‘n sleutelrol in die middelorde sal speel, danksy sy uitgebreide ervaring en afrondingsvermoë in die kortste formaat van die spel. Die Proteas begin hul veldtog teen Kanada op 9 Februarie.
# En ten slotte: Die legendariese oopwaterswemmer John Flanigan is dood in ‘n kajak-ongeluk buite Bloubergstrand in Kaapstad. Die Nasionale Seereddingsinstituut se woordvoerder, Craig Lambinon, sê die span het Flanigan gevind in ‘n kajak wat omgeslaan het. Medici het die 80-jarige op die toneel dood verklaar. Flanigan het onlangs geskiedenis gemaak as die oudste persoon wat die 7,5-kilometer swem vanaf Robbeneiland tot Bloubergstrand voltooi het. Lambinon het bevestig die voorval word nog ondersoek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….