Nuus 11:00
BULLETIN 1 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder kritiseer die oneerbiedige gedrag deur ‘n Israelse diplomaat
# Judges Matter sê die Mbenenge-saak skuif nou na die Regterlike Dienskommissie om sanksies te bepaal
# En: Tennisnuus vanaf die Australiese Ope
# ‘n Politieke ontleder Oscar Van Heerden veroordeel Israel se chargé d’affaires, Ariel Seidman, se disrespekvolle gedrag teenoor die Suid-Afrikaanse regering en neerhalende opmerkings oor president Cyril Ramaphosa. Van Heerden sê die regering se vinnige optrede om Seidman tot persona non grata te verklaar is geregverdig ná herhaalde oortredings van protokol. Dit sluit in die versuim om die owerhede van senior Israeliese besoeke in kennis te stel. Hy beklemtoon die ambassade het standaard diplomatieke prosedures geïgnoreer:
# Mbekezeli Benjamin van Judges Matter sê die saak van die regterpresident van die Oos-Kaapse Hooggeregshof, Selby Mbenenge skuif nou na die Regterlike Dienskommissie, wat oor sanksies sal besluit. Dit volg nadat Mbenenge vrygespreek is van seksuele teistering, maar skuldig bevind is aan die versuim om eerbaar op te tree deur ‘n verhouding met die voormalige hofsekretaresse, Andiswa Mengo, by die werk aan te gaan. Hy sê Mbenenge kan moontlike strawwe te wagte wees, insluitend boetes, skorsing, skriftelike waarskuwings of ander sankies:
# ActionSA het die inhegtenisneming verwelkom van ‘n Mosambiekse burger wat verbind word met die moord op Warrick ‘DJ Warras’ Stock, en die SAPD en Ekurhuleni Metropolisie vir die operasie geprys. Stock is op 16 Desember verlede jaar buite die gekaapte Zambezi-gebou in die Johannesburgse middestad doodgeskiet. Die party sê die moord beklemtoon die wydverspreide misdaad in Johannesburg se middestad. ActionSA vra die Nasionale Vervolgingsgesag om te verseker die verdagte word behoorlik vervolg. Hy sê die stryd om die stad van misdadige elemente terug te eis, is nog nie verby nie en vereis ferm leierskap en verenigde gemeenskappe.
# ‘n Federale regter het Saterdag die vrylating van Adrian Conejo Arias en sy vyfjarige seun, Liam Conejo Ramos gelas nadat immigrasiebeamptes hulle ná ‘n klopjag in Minnesota aangehou het. Die Amerikaanse distriksregter, Fred Biery, het in sy uitspraak gesê die saak is die gevolg van swak beplanning en ‘n regering se onbevoegde manier om daaglikse deportasie-kwotas te haal, selfs al word kinders getraumatiseer. Die Ekwadoriaanse seun en sy pa, wat as asielaansoekers wettig in Amerika aangekom het, is na ‘n gesins-aanhoudingsgerief in Texas gestuur.
# Tennis: Die vyfde gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan het die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka Saterdag in ‘n spannende Australiese Ope-eindstryd geklop. Die 26-jarige wat in Moskou gebore is, kan nou hierdie titel by haar Wimbledon-oorwinning van 2022 voeg. Rybakina het haar staal op die Rod Laver Arena in Melbourne gewys en binne twee ure en 18 minute met 6-4, 4-6, 6-4 gewen. Dit was ‘n verdere teleurstelling vir Sabalenka, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope vir die tweede keer gewen het, maar die Franse Ope- en die Melbourne-eindstryde verloor het.
En nog tennisnuus is, die Suid-Afrikaner Connor Doig en sy Bulgaarse spanmaat Dimitar Kisimov het die 2026 Australiese Ope junior dubbelspeltitel ingepalm. Doig en Kisimov was net te sterk vir die Australiese promotorskeuse-spanmaats, Ymerali Ibraimi en Cooper Kose, en het met 6-3, 6-4 in skoon stelle gewen. Die twee het voor die Australiese Ope slegs drie keer saamgespeel, maar albei sê die dubbelspelvennootskap sal voortgaan. Dit is die eerste keer ooit dat ‘n Suid-Afrikaanse junior ‘n enkel- of dubbelspeltitel by die Australiese Ope wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….