Nuus 08:00
BULLETIN 1 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille is vol vertroue ‘n DA-meerderheid is moontlik in Tshwane
# Die ANC-hoofsweep waarsku teen die aanstelling van polisiemisdadigers in leiersposisies
# En rugby: Die Blitzbokke kom teen Frankryk te staan in die Singapore Sewes-halfeindstryd
# Die voorsitter van die DA se Federale Raad, Helen Zille, sê dit is heeltemal moontlik vir die party om tydens die komende munisipale verkiesing ‘n meerderheid in Tshwane te bereik. Zille beskryf Tshwane as ‘n moontlike deurbraak-stad vir die party, en sê die stad toon groeiende momentum ná sy sterk prestasie in die tussenverkiesing en verhoogde kiesersteun in sleutelwyke. Die DA glo ‘n meerderheidsoorwinning kan sy posisie versterk en sal die breër politieke landskap beïnvloed.
# Die hoofsweep van die ANC, Mdumiseni Ntuli het die Parlement gewaarsku dat Suid-Afrika die gevaar loop om misdadigers as senior polisiebeamptes aan te stel. Ntuli het met verwysing na getuienis voor die ad hoc-komitee gesê die bewerings teen die geskorste adjunk-nasionale kommissaris Shadrack Sibiya is ernstig en sluit in leuens onder eed, onreëlmatige aanstellings en die onwettige aankoop van spioenasietoerusting in Johannesburg. Ntuli sê dringende optrede is nodig om moontlike korrupsie op die hoogste vlak van die polisie te voorkom.
# Die Gauteng Provinsiale Wetgewer se portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid het die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, se besluit verwelkom om negeduisend misdaadvoorkomingsbewaarders as vredesbeamptes aan te stel na aanleiding van die Openbare Beskermer se verslag. Die stap wettig hul magte en rol in wetstoepassing en klaar onsekerhede uit. Die voorsitter, Bandile Masuku, sê dit sal misdaadvoorkoming versterk, openbare veiligheid bevorder, gekoördineerde wetstoepassing regoor die provinsie ondersteun, en die res van die sekerheidsinfrastruktuur aanvul:
Intussen het die uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik, Wayne Duvenage ook die minister se besluit verwelkom. Duvenage sê die vroeëre bekendstelling was haastig en onwettig, maar behoorlike opleiding en duidelike magte is nou in plek. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika sê hy die byvoeging van nege-duisend bewaarders sal help om misdaadbrandpunte aan te pak, en beskryf dit as ‘n stap wat nodig is vir openbare veiligheid:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het gister gesê Andrew Mountbatten-Windsor moet voor ‘n Amerikaanse kongres-komitee getuig, ná nuwe onthullings oor sy bande met die wyle finansier en seksoortreder, Jeffrey Epstein. Die Amerikaanse Departement van Justisie het Vrydag nuwe lêers oor Epstein gepubliseer, wat e-posse insluit waarin aangedui word koning Charles se broer het meer as twee jaar gereelde kontak met Epstein behou, nadat hy skuldig bevind is aan kinder-seksoortredings. Die voormalige prins ontken alle oortredings rondom Epstein en het voorheen ook ontken dat hy kontak met Epstein behou het.
# En, rugby: Die Blitsbokke het hul eerste nederlaag van die naweek by die Singapoer Sevens gely toe Fidji in die laaste groepwedstyd Saterdag van agter gekom en in ekstra tyd met 24-19 gewen het. Die Suid-Afrikaners het hul toernooi geopen met ‘n 21-14 oorwinning oor Spanje, en dit opgevolg met ‘n 33-12 oorwinning oor Groot-Brittanje. Suid-Afrika, wat tweede in Groep A geëindig het, kom vanoggend om 9:14 teen Frankryk in die halfeindronde te staan kom, met die onoorwonne Fidjiane en Nieu-Seeland wat vroeër om 08:52 kragte sal meet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….