Nuus 13:00
BULLETIN 31 Jnuarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi verdedig die tempo van korrupsievervolgings
# Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad kritiseer die besluit om ‘n diplomaat uit te sit
# En die EFF beëindig sy samewerking met die ANC in plaaslike regering
# Die uittredende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê die publiek se frustrasie oor stadige korrupsiesake is geregverdig, maar ingewikkelde vervolgings wêreldwyd neem jare om te voltooi. Batohi sê aanklaers moet verseker dat ‘n behoorlike proses gevolg word met die vervolging. Sy vra vir behoorlike stelseltoepassing in die strafreg-ketting en sê die volgende direkteur, Andy Mothibi, gaan soortgelyke uitdagings in die gesig staar as hervormings nie aangebring word nie:
# Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes het die regering se besluit veroordeel om die Israelse diplomaat Ariel Seidman met 72-uur kennisgewing uit die land te sit en sê dis ongevoelig en teenstrydig. Seidman word beskuldig dat hy diplomatieke norme oortree het deur president Cyril Ramaphosa aanlyn te kritiseer en Israelse amptenare sonder goedkeuring uit te nooi. Karen Milner van die raad sê die uitreiking van die kennisgewing voor die Joodse Sabbat is ingrypend, onregverdig en toon godsdienstige ongevoeligheid.
# Die Ondersoekeenheid vir Ernstige en Geweldsmisdaad in Gauteng het ‘n tweede verdagte in hegtenis geneem in verband met die moord op die mediapersoonlikheid Warrick “DJ Warras” Stock. Hy is op Versoeningsdag buite die gekaapte Zambezi-gebou in Johannesburg se middestad doodgeskiet. Die Mosambiekse burger is gisteraand in die Marathon-informele nedersetting in Primrose, Ekurhuleni, in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die hof verskyn op aanklagte van moord en onwettige immigrasie. Die polisie sê hy was reeds op hul radar en hulle soek na nog twee verdagtes.
# Die EFF-leier Julius Malema sê die party is gereed om groot metro’s te lei en sal nie meer die ANC in plaaslike regering ondersteun nie. Malema het die Nasionale Volksvergadering toegespreek en ‘n onmiddellike beëindiging van samewerking beveel en burgemeesterskomiteelede aangespoor om op die grond te mobiliseer. Hy het die ANC van oneerbiedigheid beskuldig en die onttrekking van steun vir ANC-burgemeesters bevestig. Hy sê die EFF sal nou sy eie burgemeesterskandidate voorstel:
# Die Verenigde Nasies loop die gevaar van ‘n dreigende finansiële ineenstorting as gevolg van lidlande wat nie hul fooie betaal nie. Die sekretaris-generaal António Guterres sê die VN staar ‘n toenemende finansiële krisis in die gesig wat programlewering bedreig. Hy sê die geld kan teen Julie opraak. Dit volg nadat die VN se grootste bydraer, die VSA, geweier het om tot sy gewone en vredesbewaringsbegrotings by te dra en verskeie ander lede wat agterstallig is of weier om te betaal. In ‘n desperate poging om geld te bespaar, word die roltrappe by die hoofkwartier in Genève gereeld afgeskakel en die verhitting afgedraai.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse digter, skrywer en kulturele ikoon, Diana Ferrus is op 72-jarige ouderdom oorlede. Ferrus is wyd vereer as “volksdigter” en internasionaal geprys vir haar rol in die herstel van die waardigheid van geskiedkundig-stilgemaakte stemme. Haar bekendste werk, getiteld I’ve Come to Take You Home, is ter ere aan Sarah Baartman geskryf en het ‘n bepaalde oomblik in Suid-Afrika se post-apartheid kulturele geskiedenis geword. Die gedig is in 2002 hardop in die Franse Senaat voorgelees. Die optrede het die Senaat oortuig om Baartman se oorskot van Frankryk terug te stuur na Suid-Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….