Nuus 11:00
BULLETIN 31 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema waarsku teen moontlike Amerikaanse inmenging in Suid-Afrika se plaaslike verkiesing
# Die Steve Biko-ondersoek sal volgende maand in Gqeberha hervat word
# En duisende betoog teen die ICE in Minnesota en regoor die VSA
# Die EFF-leier Julius Malema waarsku Suid-Afrika se komende plaaslikeregeringsverkiesing kan inmenging deur die VSA en Westerse moondhede ondervind deur middel van propaganda, befondsing van mededingers, en ontwrigtingstaktiek. Malema het die derde Nasionale Volksvergadering toegespreek en gesê verwagtinge van bestendige verhoudings na Trump is misplaas. Hy het Suid-Afrikaners aangespoor pogings teen linkse leiers af te weer. Hy sê dis belangrik om nasionale soewereiniteit te beskerm en ferm te staan teen eksterne druk:
# Die geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis Steve Bantu Biko in polisie-aanhouding in 1977 sal op 20 Februarie terugkeer na die Hooggeregshof in Gqeberha vir saakbestuur. Die verhoor is uitgestel sodat die staat die aanstellings van prokureurs kan afhandel, vir persone van belang wat na verwagting sal getuig. Die ondersoek het ten doel om te bepaal of enigiemand strafregtelik verantwoordelik gehou kan word, en hersien sterftes uit die apartheidsera saam met voortgesette geregtelike ondersoeke na die Cradock-vier.
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners aangespoor om Bafana Bafana te ondersteun voor die 2026 FIFA Wêreldbeker-toernooi in die VSA, Mexiko en Kanada. Hy het by die Uniegebou in Pretoria gepraat tydens die FIFA Wêreldbeker-trofeetoer, waar hy die oorspronklike trofee ontvang het. Die president het gesê die aankoms simboliseer hoop en trots, en Suid-Afrika se terugkeer na die wêreldverhoog na 16 jaar geprys:
# Duisende betogers het gister in temperature onder vriespunt in Minneapolis die strate ingevaar en studente regoor die Verenigde State het betoog. Hulle het die onttrekking van federale immigrasie-agente uit Minnesota geëis nadat twee Amerikaanse burgers doodgeskiet is. President Donald Trump het as deel van ‘n nasionale immigrasie-veldtog drie-duisend federale beamptes na die Minneapolis-gebied gestuur. Studente en onderwysers van Kalifornië tot in New York het klasse geboikot. Protesoptogte het tot ver buite Minnesota gestrek. Die organiseerders het 250 betogings oor 46 state en in groot stede soos New York, Los Angeles, Chicago en Washington verwag.
# Tennis: Alexander Zverev het amptenare veroordeel omdat hulle Carlos Alcaraz mediese tyd gegun het vir ‘n beenprobleem nadat hy gister in ‘n epiese vyfstel-wedstryd teen die Spanjaard verloor het in die Australiese Ope se langste halfeindstryd ooit. Die wêreldnommer een het gesukkel om in die derde stel te beweeg en het behandeling aan sy regterdy ontvang. Zverev is oortuig Alcaraz het gesukkel met krampe waarvoor mediese tyd nie toegelaat word nie. Zverev het met ‘n telling van 5-4 in die vyfde stel vir die wedstryd afgeslaan, maar Alcaraz het die volgende drie potte gewen en die Duitser weereens ‘n aanslag op ‘n Grand Slam-titel ontneem.
# En ten slotte: Gesondheidskenners waarsku dat suikervervangers nie ‘n paspoort is om te veel te eet nie, ten spyte van hul voordele vir gewigsbestuur en diabetes. Alternatiewe soos stevia, aspartaam en suiker-alkohol is oor die algemeen veilig, maar die uitwerking verskil van individu tot individu. Die geregistreerde dieetkundige, Marlene Ellmer beveel matigheid aan en sê terwyl versoeters suikerinname kan verminder en tandbederf kan voorkom, hulle nie die oormatige eet van soet kos moet bevorder nie. Sy sê bewustheid en balans bly die sleutel tot gesonde dieetkeuses.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….