Nuus 08:00
BULLETIN 31 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi doen ‘n beroep op ‘n hersiening van die strafregstelsel
# Mandla Mandela verwelkom die diplomatieke stap teen Israel
# En Donald Trump sê Putin sal geen stede in Oekraïne aanval tydens die koue vlaag nie
# Die uittredende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, vra vir sterker misdaadintelligensie, strenger optrede teen vertragingstaktiek, en beter beskerming vir ondersoekbeamptes, aanklaers en fluitjieblasers. In die Nasionale Vervolgingsgesag se vorderingsverslag sê sy dis noodsaaklik om werksverrigting regoor die regstelsel in lyn te bring. Sy het ook die vordering by die Madlanga-kommissie verwelkom en vir volledige hersiening gevra om sistemiese verrotting uit te roei:
# Die stamhoof van die Mvezo Tradisionele Raad en aktivis Zwelivelile Mandla Mandela het Suid-Afrika se besluit verwelkom om Israel se chargé d’affaires, Ariel Seidman, tot persona non grata te verklaar en sê dit moes lankal gebeur het. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die besluit volg op skendings van diplomatieke norme, insluitend aanvalle op president Cyril Ramaphosa. Israel het sedertdien Suid-Afrika se Palestynse verteenwoordiger Shaun Edward Byneveldt terug gestuur. Mandela het aan die SABC gesê die stap weerspieël voormalige president Nelson Mandela se historiese steun vir Palestina.
# Die ANC in Johannesburg sê koalisievennote, nie leierskapsverlamming nie, veroorsaak ontwrigting in die stad. Die party verwerp bewerings deur minderheidspartye in die regering as roekeloos en misleidend en dring daarop aan dat besluite oor ANC-ontplooiings en herroepings uitsluitlik deur sy eie strukture gelei word. Die streekwoordvoerder van die ANC, Mantombi Nkosi sê die party belowe om voort te gaan om in die belang van die inwoners van Johannesburg te regeer, terwyl bestendigheid herstel en dienslewering verbeter word:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê sy Russiese eweknie, Vladimir Putin, het ingestem om Kiëf en verskeie ander dorpe nie tydens ‘n koue vlaag aan te val nie. Die Kremlin het bevestig hy het ingestem om aanvalle op Kiëf tot Sondag te staak om “gunstige toestande” vir vredesonderhandelinge te skep. Die Amerikaanse president het nie gesê wanneer die onderbreking sou begin nie, maar lugaanvalwaarskuwings oornag tot Vrydagoggend is in slegs agt streke aangeteken, met twee geringe beserings in Zaporizhzhia. Temperature in die hoofstad, Kiëf, sal na verwagting oor die komende dae tot minus-24 grade Celsius daal.
# Tennis: Die tweemalige kampioen Aryna Sabalenka van Belarus en die vyfde gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan sal mekaar vandag die stryd aansê vir die Australiese Ope-vrouekroon. Die topgekeurde Sabalenka het die toernooi in 2023 en 2024 gewen, terwyl Rybakina vir die eerste keer in die eindronde speel. Sy het voorheen slegs die derde ronde in Melbourne behaal en haar enigste Grand Slam-titel was in 2022 op Wimbledon, maar sy het tot dusver hierdie seisoen beïndruk. Sabalenka het die Amerikaanse Ope in 2024 en weer verlede jaar gewen.
# En om af te sluit: Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, het die provinsie se eerste kliniek vir in vitro-bevrugting in die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal bekendgestel. Dit is een van slegs vier openbare geriewe landwyd wat hierdie diens aanbied. Die LUR se woordvoerder, Camagwini Mavovana, sê die kliniek sal help om onvrugbaarheid aan te pak, wat tot 15-persent van alle paartjies raak, veral in landelike gebiede. Die eenheid beskik oor ‘n volledig toegeruste laboratorium en spesialis‑ mediese personeel, wat bekostigbare sorg aan ongeveer 3,6-miljoen mense in die provinsie sal bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….