Nuus 07:00
BULLETIN 31 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus veroordeel die uitsetting van ‘n Israelse diplomaat
# Shamila Batohi loof die vordering van die NVG die afgelope vyf jaar
# En krieket: Vandag se laaste T20 tussen die Proteas en Windies het geen uitwerking op die uitslag van die reeks nie
# Die Vryheidsfront Plus sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se besluit om Israel se saakgelastigde, Ariel Seidman, uit te sit, is ‘n eensydige stap wat Suid-Afrika se belange skaad. Die party beweer die ANC het opgetree sonder om ander vennote in die regering van nasionale eenheid te raadpleeg. Hy waarsku dat die uitsetting werkgeleenthede, beleggings en handel in gevaar kan stel, veral te midde van voortgesette onderhandelinge oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Corné Mulder van die VF Plus doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ‘n gebalanseerde, pragmatiese buitelandse beleid te volg.
Die Israeliese regering het intussen Suid-Afrika se ambassadeur by die Palestynse Owerheid, Shaun Edward Byneveldt, uitgesit. Dit volg na Suid-Afrika se besluit om Israel se saakgelastigde onwelkom te verklaar na herhaalde oortredings van diplomatieke reëls. Dit sluit in die belediging van president Cyril Ramaphosa en die versuim om besoeke deur senior Israelse amptenare aan te meld. Die jongste optrede vererger die reeds gespanne verhoudings tussen Suid-Afrika en Israel. Byneveldt is Suid-Afrika se ambassadeur by die Palestynse Owerheid in Ramallah. Israel het geen gesag om hom uit te sit nie, maar kan sy toegang tot die Wesoewer belemmer.
# Die uittredende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê die Nasionale Vervolgingsgesag het die afgelope vyf jaar beduidende vordering gemaak met die herbou van ‘n gebroke instelling terwyl sy kernmandaat nagekom is. Batohi het tydens die voorlegging van die 2024/25-jaarverslag gesê dat prestasie het verbeter van 50-persent van die teikens in 2020/21 tot 86-persent in 2024/25, met die huidige jaar wat op 94-persent staan. Sy het die stewige grondslag vir ‘n sterker, meer doeltreffende NVG, geprys:
# Die GOOD-party waarsku die voormalige presidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki kan steeds appèl aanteken wat moontlik aanspreeklikheid in die Khampepe-kommissie se ondersoek kan vertraag. Dit volg nadat regter Sisi Khampepe hul aansoek dat sy haarself moet onttrek van die hand gewys het en beslis het hulle bewerings van vooroordeel is onredelik vertraag en sonder meriete. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron dring daarop aan dat Suid-Afrikaners waaksaam bly terwyl die ondersoek voortgaan om geregtigheid te handhaaf terwyl amnestie-vervolgings van die Waarheids- en Versoeningskommissie belemmer word:
# En laastens sportnuus:
# Tennis: Novak Djokovic het vir die eerste keer sedert Wimbledon 2024 tot ‘n Grand Slam-eindstryd deurgedring. Die 38-jarige Serwiër het Jannik Sinner se bewind op Melbourne Park beëindig deur die 2024- en 2025-kampioen in vyf stelle te klop. Djokovic het agt breekpunte in die vyfde en laaste stel afgeweer. Hy kom Sondag teen die Spanjaard en wêreldnommer een, Carlos Alcaraz, te staan met die hoop om uiteindelik sy 25ste Grand Slam-titel te verower. Alcaraz het vroeër fiksheidsprobleme oorkom om in vyf stelle teen Alexander Zverev te wen.
# En krieket: Vandag se derde en laaste T20 tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers in Johannesburg sal geen uitwerking hê op die uitslag van die reeks nie. Die Proteas het die reeks reeds ingepalm met oortuigende oorwinnings van nege paaltjies in die Paarl en sewe paaltjies in Centurion. Die reeks word as opwarming gebruik vir die T20 Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka wat volgende Saterdag begin, met Suid-Afrika wat twee dae later in hul eerste groepwedstryd teen Kanada speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….