Nuus 15:00
BULLETIN 30 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die veroordeelde moordenaar Thabo Bester is na eBongweni verskuif sonder sy regspan se kennis
# Minister Schreiber vra meer befondsing en hulpbronne vir die Grensbestuursowerheid
# En rugby: Die Blitsbokke speel teen Fidji, Brittanje en Spanje in die Singapoerse Sewes se groepsafdeling
# Die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester, wat ‘n lewenslange vonnis uitdien, is van die Kgosi Mampuru-maksimumgevangenis in Pretoria oorgeplaas na een van die land se strengste tronke, die eBongweni-super-maksimum-gevangenis in Kokstad, KwaZulu-Natal. Die skuif is glo as gevolg van sekerheidskwessies ná sy ontsnapping uit die Mangaung-korrektiewe sentrum in Bloemfontein in 2023 toe hy sy eie dood nagemaak het, en daana in Tanzanië vasgetrek is. Bester se prokureurs sê hulle het by ‘n familievriend van die oorplasing gehoor.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, vra aandag aan die chroniese onderbefondsing van die Grensbestuursowerheid. Hy het ‘n nuuskonferensie gehou oor die afgelope feesgety en gesê ondanks verbeterde immigrasiebeheerprosesse gaan die bou van ‘n moderne en veilige grensstelsel voort. Schreiber sê behoorlike befondsing sal onwettige handel en oorgange verminder en inkomste verhoog. Hy sê selfs ‘n vermindering van tien- tot 20-persent in smokkelary kan ekonomiese groei aanvuur:
# Solidariteit sê planne om invoertariewe op voertuie van 25-persent te verdubbel na 50-persent, kan die motorbedryf en gewone Suid-Afrikaners benadeel. Die vakbond waarsku die prys van die goedkoopste motors kan van ongeveer 180-duisend- tot 225-duisend-rand styg, wat dit minder bekostigbaar maak. Hy kritiseer ook die luukse voertuigbelasting, wat nou op byna alle motors van toepassing is. Theuns du Buisson van Solidariteit vra die regering om te fokus op strukturele hervormings, die verlaging van koste vir vervaardigers en die ondersteuning van plaaslike motorproduksie.
# Standard Bank se hoof van Landbousake, Brendan Jacobs, sê die Reserwebank se besluit om rentekoerse bestendig te hou bied verligting aan boere. Hy voeg by verdere verlagings kan moontlik wees, terwyl die verligting van druk oor skuld, doeltreffendheid en uitbreiding kan verbeter. Jacobs noem ook makro-ekonomiese toestande, insluitend ‘n sterker rand en inflasie wat vanjaar terugkeer na die Monetêre Beleidskomitee se teikenkoers:
# Rugby: Suid-Afrika, wat bo aan die punteleer is, kom die naweek in Groep A teen Fidji, Brittanje en Spanje te staan in die wêreldreeks-sewestoernooi in Singapoer. Die Blitsbokke het in November vyfde gekom in die eerste toernooi van die seisoen in Dubai voor hulle ‘n week later in Kaapstad tot kampioen gekroon is. Fidji is tans tweede op die punteleer, gevolg deur Nieu-Seeland, Frankryk en Australië. Suid-Afrika het verskeie sleutelspelers verloor weens beserings en afrigter Philip Snyman sê dis belangrik om jeug en ervaring te balanseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-638-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-112-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….