Nuus 14:00
BULLETIN 30 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa keur ‘n tydelike ESKOM-tariefverligting vir ferrochroom-vervaardigers goed
# Minister Schreiber loof die oplewing in wettige feestyd-reise as ‘n hupstoot vir toerisme
# En tennis: Alcaraz swoeg om Zverev te klop en die Australiese Ope-eindstryd die eerste keer te haal
# Die energiereguleerder, Nersa, het Eskom se versoek goedgekeur om tydelike tariefverligting vir Samancor Chrome en die Glencore-Merafe Chrome Venture vir 12-maande te verleng. Krag sal teen 87-sent-per-kilowatt-uur verskaf word nadat albei vervaardigers finansiële probleme met die bestaande prysooreenkomste aangehaal het. Nersa sê goedkeuring is voorwaardelik van ‘n regeringsbefondsings-meganisme om te verhoed kostes word aan gewone verbruikers deurgegee. Eskom moet ook kwartaallikse vorderingsverslae indien en moet streef na ‘n langer-termyn-tariefoplossing.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê daar was in die feestyd ‘n merkbare toename in wettige reise, met die Grensbestuursowerheid wat byna 4,9-miljoen reisigers op 71 grensposte verwerk het. Hy sê Suid-Afrika het in 2025 ‘n nuwe toerismehoogtepunt van 10,48-miljoen aankomste aangeteken, waarin die Grensbestuursowerheid ‘n sleutelrol gespeel het. Schreiber voeg by toekomstige digitale hervormings sal toerisme, handel en werkskepping verder bevorder:
# Kaapstad het in sy aanpassingsbegroting 114-miljoen-rand toegeken vir die N2-veiligheidsprojek. Die doel is om pendelaars, voetgangers en gemeenskappe se veiligheid oor ‘n afstand van nege kilometer op die N2 te verbeter. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê behalwe herstelwerk en versterking van veiligheidsversperrings langs die N2, sal die projek ook gemeenskappe se veiligheid verbeter deur onder meer nuwe voetganger-oorgange en beter beligting en toegangsbeheer:
# Tennis: Wêreld-nommer-een Carlos Alcaraz sê hy het nooit aan homself getwyfel tydens ‘n uitmergelende Australiese Ope-halfeindstryd teen die Duitser Alexander Zverev nie. Die Spanjaard het die eerste twee stelle gewen voor krampe hom gepootjie het, wat die derde-gekeurde Zverev laat terugslaan en die wedstryd tot vyf stelle gerek het. Alcaraz het uiteindelik na vyf-en-‘n-half-uur gewen om die eindstryd die eerste keer te haal. Hy speel teen die wenner van die ander halfeindstryd tussen die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië.
# En geldsake: Oliemarkte verhandel steeds na aan hoogtepunte van die afgelope maande, wat hoofsaaklik aangevuur word deur geopolitieke onsekerheid in die Midde-Ooste. Brent-ruolie het vanoggend teen meer as 68-dollar per vat verhandel – ‘n styging van 5,5-persent teenoor ‘n week gelede. Ontleders sê hernude spanning tussen Amerika en Iran verhoog kommer oor moontlike voorsienings-onderbrekings, veral met betrekking tot Iranse uitvoere en belangrike skeepsroetes. Tydelike onderbrekings in Kazakstan, Rusland en Venezuela het gesamentlik die wêreldwye aanbod verminder, en gure weer in Amerika beperk ook die uitset.
Die rand verhandel tans teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-402-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-69-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….