Nuus 11:00
BULLETIN 30 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Solidariteit-beweging sê die ANC se beplande massabetoging teen Amerika is ekonomiese selfdood
# Die korrupsie-beskuldigde regter Ledwaba is op die kortlys vir Gautengse regter-president
# En krieket: ‘n Voormalige onder-19-kaptein maak dalk haar buiging vir die senior Protea-span teen Pakistan
# Die Solidariteit-beweging striem die aankondiging van die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, dat ‘n massabetoging teen Amerika vir 21 Maart beplan word. Hy het gister op ʼn nuuskonferensie ná die ANC-lekgotla Suid-Afrika se verhouding met Amerika as ʼn koue oorlog beskryf en sê die land ondersteun steeds multilateralisme, maar gaan nie deur president Donald Trump geboelie word nie. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê Mbalula en die ANC se verklarings en optrede is ekonomiese selfdood:
Die ANC het homself intussen weereens verbind tot die bekamping van misdaad, korrupsie, onwettige mynbou en geslagsgeweld. Die party beskryf hierdie kwessies as groot bedreigings vir openbare veiligheid en maatskaplike bestendigheid. Die party het ook beloof om strenger op te tree teen onwettige mynboubedrywighede wat gemeenskappe en infrastruktuur benadeel. Mbalula sê die beskerming van vroue en kinders en die herstel van openbare vertroue in die regstelsel kry voorkeur:
# Regter Aubrey Ledwaba, wat voor die Madlanga-kommissie genoem is, is op die kortlys van mense met wie onderhoude gevoer gaan word vir die vakante pos as Gautengse regter-president. Daar word beweer hy is 2,5-miljoen-rand betaal om die vermeende misdaadbaas Katiso ‘KT’ Molefe op borgtog vry te laat. Ledwaba ontken die aantyging. Die Regterlike Dienskommissie het ook die name bekend gemaak van kandidate met wie onderhoude gevoer sal word vir poste in die Appèlhof, Grondhof, Mededingings-appèlhof en afdelings van die Wes-Kaapse en die Oos-Kaapse Hooggeregshof.
Nuus uit die buiteland:
# Iran het die Europese Unie se besluit om die land se Revolusionêre Wagte as terroristegroep te verklaar, gekritiseer en sê dis ‘n reuse-strategiese fout. Menseregtegroepe bereken veiligheidsmagte, insluitend die Wagte-eenheid, het meer as ses-duisend betogers doodgeskiet tydens die afgelope twee maande se betogings teen die regering. Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, het die EU van skynheiligheid en selektiewe optrede beskuldig en gesê die unie tree nie op teen Israel se volksmoord in Gaza nie, maar is haastig om menseregte in Teheran te verdedig.
# Krieket: Die voormalige Suid-Afrikaanse onder-19-vrouekaptein, Kayla Reyneke, sal na verwagting haar buiging vir die senior span maak nadat sy ingesluit is in die groep vir die T20-tuisreeks van drie wedstryde teen Pakistan. Ander spelers in die groep sluit in kaptein Laura Wolvaardt, Chloé Tryon, Marizanne Kapp, Dané van Niekerk, Masabata Klaas en Ayabonga Khaka. Die top-orde kolwers Lara Goodall en Faye Tunnicliffe is deel van die eendaggroep vir die reeks wat op die T20’s volg. Die eerste T20 vind op 10 Februarie in Potchefstroom plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-501-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-160-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….