Nuus 09:00
BULLETIN 30 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie sê die beamptes wat in die Madlanga-verslag genoem word moet geskors word
# Die DA in Johannesburg kritiseer die voorstel vir ‘n adjunkburgemeestersposisie
# En netbal: Suid-Afrika is op die wenpad in hul drie-wedstryd toetsreeks teen Engeland
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê hy het by die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, aanbeveel dat beamptes wat in die Madlanga-kommissie se verslag betrek word, tydelik geskors word. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa Cachalia en Masemola beveel het om ‘n spesiale ondersoektaakspan aan te stel om die individue wat by korrupsie betrek word te ondersoek. Cachalia het aan die SABC gesê die kommissie het bevind daar is prima facie bewyse teen vyf SAPD-beamptes:
# Die MK-party het op sy beurt reageer en gesê hy verwerp president Cyril Ramaphosa se poging tot daadkragtigheid deur die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag te aanvaar. Die president het die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia en nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, beveel om ʼn spesiale eenheid te stig om persone wat in die verslag genoem word, te ondersoek. Die MK-party sê die verslag bevestig sistemiese verrotting, maar Ramaphosa reageer met verdere verwysings en taakspanne en laat die betrokke instellings toe om hulle self te ondersoek. Hy sê alle geïmpliseerde amptenare moet voorlopig geskors word.
# Die DA in Johannesbug sê hy is ontsteld dat die koalisievennote onder leiding van die ANC ten gunste van die skep van ‘n pos vir ‘n onderburgemeester gestem het terwyl die metro en sy inwoners onder gebroke dienslewering ly. Volgens die metro is die doel van die aanstel van ‘n onderburgemeester om te verseker daar is ononderbroke uitvoerende mag binne die munisipaliteit. Alex Christians van die DA sê die posisie van onderburgemeester sal nie die inwoners dien nie:
# Die Amerikaanse wetgewers het op ‘n tweeparty-befondsingooreenkoms ooreengekom om ‘n regeringsluiting te voorkom. Demokrate en Republikeine in die Senaat het op vyf bestedingsrekenings ooreengekom maar ‘n sesde, die befondsing van die Departement van Binnelandse Veiligheid, verwyder. Weens die verwydering moet die hele Huis, waar die lede nie voor Maandag terug is nie, nou weer die pakket goedkeur. Die mees onlangse sluiting was in 2025 en het 43 dae geduur, die langste in die Amerikaanse geskiedenis.
# Netbal: Suid-Afrika het Engeland in Johannesburg met 52-48 geklop in hul eerste van drie wedstryde in die reeks. Die Rose het vroeg met 6-3 voorgeloop, maar die Proteas het sokkies opgetrek en die gasvroue het teen rustyd met 29-25 voorgeloop. Engeland het teruggeveg en laat in die wedstryd was hulle voor met 39-38. Suid-Afrika het egter munt geslaan uit die besoekers se ongedwonge foute en die oorwinning beklink. Die twee spanne meet môre kragte in die reeks se tweede wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-155-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-213-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….