Nuus 07:00
BULLETIN 30 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Basiese Onderwys weerlê bewerings dat buitelandse leerders Suid-Afrikaanse skole oorstroom
# Regter Madlanga mag moontlik aansoek doen vir ‘n verlenging van die kommissie
# En die wantrouemosie teen die burgemeester van Johannesburg is uitgestel
# Die Departement van Basiese Onderwys sê berigte dat buitelandse leerders onnodige druk op die onderwysstelsel plaas, is statisties verkeerd en onverantwoordelik. Volgens nasionale inskrywingsyfers is slegs 1,8-persent van alle leerders buitelanders. Dit volg na betogings onder leiding van die organisasie teen immigrante, March and March, buite Addington Primary School in Durban, wat beweer buitelanders kry voorkeur bo plaaslike leerders. Die departement sê pogings om die onderwyssektor as sondebok en platform vir maatskaplike verdeling of politieke opportunisme te gebruik, moet verwerp word as ‘n poging om verdeeldheid te saai.
# Die Madlanga-kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê regter Mbuyiseli Madlanga mag dalk by president Cyril Ramaphosa aansoek doen vir ‘n verlenging van die kommissie se huidige sperdatum van 17 Maart. Hy sê as deel van sy oorblywende werk moet talle getuies oor die volgende paar maande voor die kommissie verskyn. Michaels sê die kommissie sal getuienis aanhoor van persone wat betrek word by ernstige bewerings deur die provinsiale polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi:
Build One South Africa sê intussen die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag oor korrupsie en misdadigheid in die regstelsel is moeilik om te aanvaar, aangesien nie ‘n enkele politikus geïdentifiseer is nie. Die party waarsku dat die regstelsel geskaad is deur polities-verbonde amptenare. Hy vra vir die onmiddellike verwydering van die minister van Polisie, Senzo Mchunu en wil hê die verslag moet dringend in die Parlement ter tafel gelê word. Roger Solomons van BOSA sê die party eis ‘n permanente minister wat fokus op die herstel van integriteit en openbare vertroue.
# Die mosie van wantroue teen Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, is gister uitgestel hangende ʼn besluit oor die stemprosedure. Die mosie is deur Al Jama-ah ingedien en deur talle minderheidspartye in die raad ondersteun. Hulle beskuldig Morero dat hy versuim om dienslewering te verbeter en koalisievennote ignoreer wanneer hy belangrike besluite neem. Die raad se speaker, Margaret Arnolds, sê hulle sal later stem weens versoeke vir ʼn geheime stemming. Dis die derde mosie teen Morero sedert hy in 2024 burgemeester geword het.
# Die Withuis se sogenaamde grens-tsaar, Tom Homan, sê hy het federale immigrasie-owerhede opdrag te gee om aan ʼn plan te werk om wetstoepassing in Minnesota geleidelik te onttrek. President Donald Trump het Homan na die stad gestuur nadat federale beamptes twee betogers, Renee Good en Alex Pretti, in Minneapolis doodgeskiet het. Homan het herhaal dat ICE- en grensbeheerbeamptes onder moeilike omstandighede werk terwyl hulle probeer om professioneel te bly:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Martin Vorster loop voor by die SDC Ope ná ʼn openingsronde van sewe onder baansyfer 65 by die Zebula Gholflandgoed en Spa in Limpopo. Hy het die dag afgesluit op een hou voor sy landgenote, Jaco Prinsloo en MJ Viljoen. Op hul hakke is Callum Farr van Engeland, Jaco Ahlers en Luke Brown van Suid-Afrika en die Fransman Julien Sale op vyf onder baansyfer. Vorster sê hy is tot dusver tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-82-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-647-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-347-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….