Nuus 06:00
BULLETIN 30 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Kganyago waarsku teen wêreldwye onsekerheid en geopolitieke risiko’s in 2026
# Voedsel- en elektrisiteitspryse bly die belangrike inflasierisiko’s vir Suid-Afrika
# En krieket: Suid-Afrika het klaaglik misluk by die Onder-19-wêreldbeker
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê wêreldwye onsekerheid aan die begin van 2026 is steeds hoog, met toenemende geopolitieke spanning en bedreigings vir die onafhanklikheid van die sentrale bank wat risiko’s vir markte inhou. Kganyago waarsku dat groeiende staatskuld, handelswanbalanse en moontlike risiko’s as gevolg van kunsmatige intelligensie wêreldwye finansiële bestendigheid kan beïnvloed. Hy het aan die media gesê ten spyte van hierdie druk, bly wêreldwye groei bestendig, ondersteun deur fiskale stimulus en kunsmatige intelligensie-gedrewe beleggings:
Voedsel- en elektrisiteitspryse bly intussen belangrike bekommernisse vir Suid-Afrika se inflasievooruitsigte. Die algehele inflasie het tot na aan die drie-persent-teiken gedaal, maar kommer duur voort oor stygende vleispryse as gevolg van bek-en-klouseer en moontlike elektrisiteitsprysverhogings, wat huishoudings en besighede kan benadeel. Kganyago, sê die Reserwebank monitor hierdie faktore steeds noukeurig terwyl hy probeer om inflasie te beheer:
# Die ANC sê werkskepping en ekonomiese transformasie bly topprioriteite vir die jaar. Die party sal ook vaardigheidsopleiding bevorder, meer werksgeleenthede vir die jeug bied, en met die sakewêreld, arbeidsektor en gemeenskappe saamwerk om seker te maak dat ekonomiese groei en dienste mense se daaglikse lewens bevoordeel. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het tydens ‘n media-inligtingsessie na die nasionale uitvoerende komitee se lekgotla, gesê die party het hom ook daartoe verbind om ongelykheid en armoede te verminder deur inklusiewe groei en sterker maatskaplike programme:
# Die stadsraad van Johannesburg het gestem om die posisie van adjunkburgemeester te vestig, met ‘n jaarlikse salaris van meer as 1,2-miljoen-rand, en gepaardgaande voordele. Die mosie is deur die ANC ter tafel gelê. ‘n Totaal van 107 raadslede het ten gunste gestem, met 87 daarteen en 37 wat buite stemming gebly het. Die ANC se streeksekretaris, Sasabona Manganye, sê die nuwe posisie sal die operasionele bestendigheid in die metro aansienlik verbeter. Die adjunkburgemeester se rol sal as ‘n lid van die burgemeesterskomitee gevestig word, terwyl dit die werk van die burgemeester aanvul.
# Die Duitse kanselier Friedrich Merz het Donderdag gesê Europa het “selfrespek” gevind deur op te staan vir ‘n reëlgebaseerde wêreldorde. Hy vra ‘n sterker NAVO in Europa terwyl hy steeds ‘n hand van samewerking na Amerika uitsteek. Merz het die Duitse parlement toegespreek en gesê Europa sal nie langer voor tariefdreigemente struikel nie. Sy toespraak het beklemtoon hoe Europese leiers aangemoedig is om Europese krag en waardes uit te straal, ná die stryd met Trump oor Groenland, wêreldwye handelsbeperkings en ‘n oorlog van bykans vier jaar tussen Rusland en Oekraïne.
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n treurige Onder-19-wêreldbekerveldtog afgesluit en met vyf paaltjies teen Sri Lanka verloor in hul Super Ses-wedstryd in Bulawayo. Die Suid-Afrikaanse aanvangskolwer Jorich van Schalkwyk het 116 lopies van 130 balle aangeteken om sy span tot 261 vir sewe te lei. Die Sri Lankaanse draaibouler Vigneshwaran Akash het vier paaltjies geneem. Viran Chamuditha het 110 lopies van 94 balle aangeteken om die teiken met 24 balle oor te bereik. Suid-Afrika het vier wedstryde in die toernooi verloor terwyl hulle net een teen Tanzanië gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-72-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-259-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-379-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….