Nuus 17:00
BULLETIN 29 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou die rentekoers op 6,75% met inflasie na aan die 3%-teiken
# Lesetja Senona ontken bewerings van ‘n sakeverband tussen hom en Vusimuzi ‘Cat’ Matlala
# En, Johannesburg veroordeel die uitbrand van Pikitup-vragmotors in Diepsloot
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het besluit om die rentekoers onveranderd te hou op 6,75-persent, in die lig van bestendige ekonomiese groei en inflasie wat naby aan sy teiken van drie-persent is. Die president, Lesetja Kganyago, het op ‘n nuuskonferensie gesê die ekonomie het oor vier agtereenvolgende kwartale gegroei, gelei deur huishoudelike besteding, maar belegging bly swak. Kganyago sê die sentrale bank het aangedui geleidelike rentekoersverlagings kan volg namate inflasie ‘n plato bereik, met neutrale koerse wat teen volgende jaar verwag word:
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het voor die Madlanga-kommissie getuig daar is geen sakeverband tussen hom en die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala nie. Vandag is sy derde dag voor die kommissie in Pretoria. WhatsApp-boodskappe wys Senona handhaaf na bewering ‘n twyfelagtige verhouding met Matlala. Senona het egter genoem hy wou slegs ‘n bywerking hê oor Matlala en sy seun, Thato Senona, se sakekontrak:
# Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir Omgewings- en Infrastruktuurdienste, Jack Sekwaila, veroordeel diegene wat gister Pikitup-vullisverwyderingsvragmotors in Diepsloot in die noorde van die stad aan die brand gesteek het. Die stad se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die voorval is by die polisie aangemeld om vas te stel waarom die onderneming se voertuie vernietig is en om die skuldiges vas te trek:
# Die owerhede in Pakistan het verbeterde sifting gelas van mense wat die land binnekom, vir tekens van infeksies as gevolg van die dodelike Nipah-virus. Dit volg nadat Indië twee gevalle bevestig het. Thailand, Singapoer, Hongkong, Maleisië, Indonesië en Viëtnam het ook siftingsmaatreëls by lughawens verskerp. Die virus kan koors en breinontsteking veroorsaak en het ‘n hoë sterftesyfer. Daar is ook geen entstof nie. In Desember verlede jaar was daar wêreldwyd 750 bevestigde Nipah-infeksies, met 415 sterftes.
# Rugby: Die Springbok-haker André-Hugo Venter het sy toekoms by die Stormers bevestig met ‘n kontrak-verlenging tot 2029. Hy was net 20 toe hy die span in 2022 gehelp het om die Verenigde Rugbykampioenskap te wen, en het nou reeds 77 wedstryde vir die Stormers gespeel. Die 24-jarige Venter is aan die begin van sy loopbaan en behoort homself oor die volgende drie seisoene te bewys. Direkteur van rugby John Dobson sê die behoud van ‘n speler soos Venter in dié stadium van sy loopbaan is deel van hulle Projek 2029-strategie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-949-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-525-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 68-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….