Nuus 11:00
BULLETIN 29 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela verwelkom die SOE se herwinning van 1,7-miljard-rand in NSFAS-fondse
# Brown Mogotsi sê kommer oor sy veiligheid voor die Parlement se ad hoc-komitee is geregverdig
# En basketbal: Die Departement van Sport begin met ‘n proses om die sport in Suid-Afrika te laat herleef
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het sy ondersteuning bevestig aan die Spesiale Ondersoekeenheid se mandaat om korrupsie, bedrog en wanadministrasie by naskoolse onderwys- en opleidingsinstellings te ondersoek. Die eenheid het 1,7-miljard-rand aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente oorhandig wat teruggevind is by universiteite, kolleges en studente wat nie geregtig was op befondsing nie. Manamela sê die herwinning van hierdie fondse is ‘n belangrike stap om integriteit, aanspreeklikheid en openbare vertroue in die administrasie van studentehulp te herstel.
# Die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, het sy eise verdedig voor hy verskyn voor die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings van misdadige infiltrasie in die Polisiediens ondersoek. Hy wil ‘n private veiligheidspan hê gedurende sy verblyf in Kaapstad en weier alternatiewe reëlings. Die komitee, wat besluit het om Mogotsi te dagvaar, sê sy eise is belaglik. Mogotsi het aan Newzroom Afrika gesê kommer oor sy veiligheid is geregverdig:
# Die Solidariteit Onderwysersnetwerk verwerp die Gautengse Onderwysdepartement se ontkenning dat befondsing aan Kwintiel 5-skole met sowat 65-persent besnoei is. ʼn Onlangse verslag toon die toekenning per leerder vir 2026 het van tussen 879- en 900-rand gedaal tot 315-rand, wat ʼn daling van 65-persent is. Johan Botha van Solidariteit sê die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, hou vol skole is in September verlede jaar oor die veranderings ingelig:
Nuus uit die buiteland:
# Colombië se Burgerlugvaartowerheid sê daar was geen oorlewendes nie nadat ʼn passasiersvliegtuig met 15 mense in die noorde van die land neergestort het. Onder hulle is ʼn kongreslid, Diógenes Quintero. Die vliegtuig het aan die staatslugredery, Satena, behoort. Die bemanning het kontak met lugverkeer-beheer verloor kort na opstyging van Cúcuta na Ocaña, met 13 passassiers en twee bemanningslede aan boord. Quintero het een van 16 setels in die Parlement beklee wat slagoffers van geweld verteenwoordig ingevolge ‘n vredesooreenkoms met die Revolusionêre Gewapende Magte van Colombië in 2016.
# Basketbal: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het amptelik met ʼn proses begin om die bestuur van die sport in Suid-Afrika te herbou. Dit volg na die mislukking van Basketbal Suid-Afrika weens voortdurige bestuurs- en administratiewe probleme wat die sport se ontwikkeling belemmer het. Die departement se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê die proses sluit in dat ʼn omvattende plan opgestel word vir die sport se herlewing en volhoubare ontwikkeling:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-67-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-229-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-572-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….