Nuus 09:00
BULLETIN 29 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n parlementêre debat oor die krisis in die filmbedryf
# Minister Cachalia vra vir sterker polisie-ontplooiing in die Sporong-nedersetting
# En die Amerikaanse Federale Reserwebank hou rentekoerse onveranderd
# Die DA eis ‘n parlementêre debat van nasionale belang om dringend die krisis in die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf te bespreek. Professionele mense in die bedryf het Woensdag buite die Parlement betoog en die staat beskuldig dat hy die bedryf lam lê. Onder die vaandel van Save SA Film Jobs het die groep gevra die regering moet dadelik toetree om die huidige onbestendigheid in die bedryf aan te spreek. Toby Chance van die DA sê die uitstaande korting van 663-miljoen-rand wat aan professionele persone in die bedryf geskuld word, is onaanvaarbaar:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut stel voor dat elektrisiteit ingesluit word by produkte waarop geen BTW gehef word nie. Die inkomste uit BTW was in die 2024/2025 fiskale periode 457,8-miljard-rand. Professor Sampson Mamphweli van die instituut sê die afskaffing van BTW op elektrisiteit kan die prys onmiddellik met 15-persent laat daal, wat ‘n onmiddellike besparing vir verbruikers beteken. Hy stel ook voor dat onderhandelinge met steenkoolverskaffers voorkeur kry sodat dié produk se koste verminder kan word.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, vra dat meer wetstoepassingsbeamptes in die Sporong-nedersetting naby Randfontein in Gauteng ontplooi word. Gauteng se premier Panyaza Lesufi en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die nedersetting gister besoek. Die minister se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê met Lesufi se vorige besoek is korttermynmaatreëls ingestel om die gebied te stabiliseer. Dit sluit die ontplooiing van njalas en bykomende polisiebeamptes in om inwoners se veiligheid en sekuriteit te verseker:
# Die Amerikaanse Federale Reserwebank se voorsitter, Jerome Powell, sê die sentrale bank moet onafhanklik bly om te keer dat monetêre beleid as politieke hefboom gebruik word. Beleidsmakers het met 10-2 gestem dat die sentrale bank se basiese koers tussen 3,5- en 3,75-persent bly. President Donald Trump het Powell al dikwels gekritiseer omdat hy nie die koerse vinnig genoeg sny nie. Powell sê hy en sy kollegas is vasbeslote om die bank se onafhanklikheid te handhaaf:
# Sokker: Arsenal het sy agste oorwinning in die Kampioeneliga behaal en die eerste span geword om die liga-fase met ʼn 100-persent-rekord te voltooi. Die Gunners het Kairat Almaty met 3-2 verslaan. Vier ander Engelse klubs, Chelsea, Liverpool, Manchester City en Tottenham Hotspur is deur na die ronde van 16 nadat hulle gister hul onderskeie wedstryde gewen het. Intussen het die verdedigende kampioene, Paris St-Germain, se wedstryd teen Newcastle United met een-elk gelykop geëindig en albei spanne kwalifiseer vir die uitklopfase.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-874-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-537-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….