Nuus 08:00
BULLETIN 29 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra vir ‘n verlaging van die repokoers om werkers se las te verlig
# Die burgemeester van Johannesburg staar vandag nog ‘n mosie van wantroue in die gesig
# En die twee federale agente wat betrokke was by die Alex Pretti-skietery is met administratiewe verlof
# Die vakverbond Cosatu vra die Suid-Afrikaanse Reserwebank om die terugkoopkoers met minstens 25 basispunte te verlaag. Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee vergader vandag. Die meeste voorspellings verwag ‘n daling van minstens 50 basispunte in 2026, met nog ʼn daling van 25 basispunte in 2027. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê werkers sukkel om die stygende lewenskoste te hanteer met elektrisiteit- en vervoerpryse ver bo die algemene inflasiekoers:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra ‘n volledige oudit van die sektor vir finansiële hulp aan studente nadat meer as twee-miljard-rand se fondse van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie toegeken is nie of wanbestuur is. Die Spesiale Ondersoekeenheid het 1,7-miljard-rand van universiteite, TVET-kolleges en ongekwalifiseerde voormalige studente verhaal. Claude Naiker van die vakbond sê mislukkings deur die skema en tersiêre instellings het behoeftige studente toegang tot fondse ontneem. Naiker dring aan op strenger toesig en aanspreeklikheid om toekomstige wanbestuur te voorkom:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het vandag nog ʼn mosie van wantroue teen hom. Dit is die derde sedert hy in Augustus 2024 in die pos aangestel is. Een het misluk en een is onttrek. Die huidige mosie is deur Al Jama-ah ingedien wat ook versoek het dat geheime stemming plaasvind. Die Politieke Bestuurskomitee, wat partye in die regering van plaaslike eenheid insluit, het besluit Morero moet bedank. Die minderheidspartye het ernstige kommer uitgespreek oor gebrekkige leierskap en die regstreekse invloed daarvan op dienslewering en institusionele bestendigheid.
# Die Amerikaanse Departement van Binnelandse Veiligheid het twee grens-patrolliebeamptes op administratiewe verlof geplaas na die noodlottige skietvoorval in Minneapolis waarin Alex Pretti dood is. Dit volg nadat president Donald Trump gesê het hy sal die optrede teen onwettige immigrante in die staat afskaal. Die departement sê federale wetstoepassingsagente wat by ʼn skietvoorval betrokke was, word as deel van standaard-protokol op administratiewe verlof geplaas terwyl die omstandighede rondom die voorval ondersoek word.
# Gholf: Die negemalige wenner van die PGA-toer, Patrick Reed, het aangekondig dat hy LIV Gholf verlaat en terugkeer na die PGA-toer. Sy landgenoot, Brooks Koepka, het ook die Saoedi-Arabies-ondersteunde reeks verlaat. LIV Gholf sê hy kon nie ʼn ooreenkoms met Reed bereik oor die moontlike verlenging van sy kontrak nie. Die PGA-toer sê aangesien Reed as lid bedank het voordat hy enige regulasies oortree het, mag hy op 25 Augustus as nie-lid na die kompetisie terugkeer. Hy wil weer aansoek doen vir PGA-lidmaatskap in 2027.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-814-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-527-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….