Nuus 07:00
BULLETIN 29 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Regter Bernard Ngoepe sal die ondersoek lei na Iran se omstrede deelname aan die onlangse vlootoefening
# BOSA stel ’n skole-klagtelyn op om onderwysmislukkings na die Parlement te neem
# En krieket: Die T20-reeks tussen die Proteas en die Windies skuif na Centurion
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, het afgetrede regter Bernard Ngoepe aangestel as voorsitter van die ondersoekraad wat Iran se versuim om vroeër die maand aan die Will for Peace-vlootoefening by Simonstad in Kaapstad te onttrek, ondersoek. President Cyril Ramaphosa het opdrag gegee dat Iran onttrek aan die oefening waarby Rusland, China, Suid-Afrika en die Verenigde Arabiese Emirate ook betrokke was. Die departement se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê regter Monica Leeuw en Kathleen Satchwell, asook afgetrede skout-admiraal Patrick Duze is lede van die raad:
# Die EFF sê hulle ondersteun oproepe dat die privaat ondersoeker Paul O’Sullivan en omstrede Noordwes-sakeman Brown Mogotsi gedagvaar word om voor die parlementêre ad hoc-komitee te verskyn. Mogotsi dring aan dat die Parlement vir sy lyfwagte betaal voor hy voor die komitee verskyn. O’Sullivan wil weens veiligheidsredes virtueel verskyn. Leigh-Ann Mathys van die EFF sê die Parlement het toegelaat dat O’Sullivan en Mogotsi die komitee ondermyn:
# Build One South Africa het ‘n blitslyn vir skoolklagtes bekendgestel om voortgesette onderwysuitdagings aan te pak en kwessies Parlement toe te neem. Die party sê twee weke ná die begin van die 2026 akademiese jaar is talle leerders steeds nie in skole geplaas nie, terwyl ander te kampe het met daaglikse struikelblokke soos handboektekorte, infrastruktuuruitdagings en swak sanitasie. Roger Solomons van BOSA vra breër onderwyshervormings, insluitend hoër slaagpunte, beter onderwyserondersteuning en verbeterde skoolbestuur.
# RISE Mzansi het die LUR vir Landbou in Gauteng, Vuyiswa Ramokgopa, en die regering van provinsiale eenheid geprys vir sy deursigtige optrede rondom die bek-en-klouseer-uitbreking. Die party-woordvoerder, Mabine Seabe, sê die maatreëls sal help om boere, plaaswerkers en die provinsie se hoëwaarde-landbousektor te beskerm. Seabe doen ‘n beroep op ‘n samehangende nasionale strategie, insluitend entstofvervaardiging, bewegingsbeheer en ‘n verenigde dieregesondheidsraamwerk om voedselsekerheid te beskerm:
# President Donald Trump van Amerika waarsku Iran dat die tyd min raak om oor ‘n regverdige en billike ooreenkoms oor sy kernprogram te onderhandel. Spanning tussen Amerika en Iran het die afgelope weke toegeneem nadat die regime meer as vyf-duisend betogers doodgemaak het. Trump waarsku op Truth Social dat ʼn massiewe oorlogsvloot vinnig en doelgerig, met groot mag en entoesiasme op pad is na Iran. In reaksie daarop sê Iran hy is gereed vir dialoog wat op wedersydse respek gebaseer is, maar sal homself verdedig indien nodig.
# Krieket: Die T20-reeks tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande is vandag in Centurion in Gauteng nadat die Proteas Woensdag se eerste ontmoeting in die Paarl met nege paaltjies beklink het. Die Suid-Afrikaanse kaptein Aiden Markram het ‘n kapteinsbeurt gespeel en ‘n onoorwonne 86 lopies bygedra. Die laaste T20 word Saterdag op die Wanderers in Johannesburg gespeel. Die reeks word as opwarming gebruik vir die T20-Wêreldbeker, wat volgende Saterdag in Indië en Sri Lanka begin, met die Proteas se eerste wedstryd twee dae later teen Kanada in Ahmedabad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-73-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-887-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-463-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….