Nuus 16:00
BULLETIN 28 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Senona word beskuldig van selektiewe geheue rakende die Babita Deokaran-moordsaak
# Premier Oscar Mabuyane kritiseer ongemagtigde skenkings van die Israelse ambassade
# En tennis: Die verdedigende kampioen Jannik Sinner is deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# Die Madlanga-kommissie het die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, ondervra oor bewerings dat hy nie bewus was van die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala se verbintenis met korrupsie in die Tembisa-hospitaal nie. Die vermoorde verklikker, Babita Deokaran, het die korrupsie onthul. Kommissaris Sesi Baloyi sê haar moord was nasionale nuus in 2021 en sy het Matlala voor haar dood betrek. Sy glo nie Senona se bewerings nie:
‘n Sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, weier intussen om voor die Parlement se ad hoc-komitee te verskyn wat bewerings van politieke inmenging in die regstelsel ondersoek. Mogotsi dring aan die Parlement moet sy persoonlike beskerming befonds. Hy sou môre voor die komitee verskyn. Die komitee se voorsitter, Soviet Lekganyane, sê dit is belaglik en hy is bekommerd oor aanspreeklikheid en deursigtigheid in die voortgesette ondersoek:
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, kritiseer die Israelse ambassade en die AbaThembu-koning, Buyelekhaya Dalindyebo, oor besoeke en skenkings aan instellings, insluitend die Walter Sisulu Universiteit en openbare hospitale, sonder provinsiale goedkeuring. Mabuyane sê hierdie optrede oortree diplomatieke protokol en ondermyn nasionale gesag. Mabuyane sê dis ‘n belediging van Suid-Afrika se soewereiniteit. Hy het die LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, opdrag gegee om ondersoek in te stel na hoe skenkings aanvaar is, en bygevoeg die regering en nasionale departemente sal saamwerk om toekomstige ongemagtigde buitelandse verbintenisse te voorkom.
# Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, het met verteenwoordigers van die rolprentbedryf vergader oor vertragings in nasionale rolprent-aansporingskortings wat plaaslike produksie en buitelandse beleggings bedreig. Hy sê die stad se rolprentsektor, wat meer as 30-duisend werksgeleenthede ondersteun, het ‘n daling in voltydse indiensneming gesien van vier-duisend-943 in 2021 tot 884 in 2024, met beleggings wat van ses-miljard- tot 962-miljoen-rand gekrimp het. Smith bepleit ‘n vinnige oplossing:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, is deur na die halfeindronde van die Australiese Ope. Die Italiaanse wêreld-nommer-twee moes hard werk, maar het uiteindelik die Amerikaner Ben Shelton in skoon stelle geklop. Hy speel volgende teen die tienmalige kampioen, Novak Djokovic. Die 38-jarige Serwiër het gedink hy’s op pad huis toe toe Lorenzo Musetti die eerste twee stelle gewen het, maar die vyfde-gekeurde Italianer moes in die derde stel onttrek weens ‘n besering. Die topgekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz ontmoet die derde-gekeurde Duitser Alexander Zverev in die ander halfeindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-797-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-267-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….