Nuus 15:00
BULLETIN 28 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap kry borgtog
# Ouers sukkel om hulle kinders geplaas te kry in skole vir spesiale behoeftes
# En branderry: Die DA eis dat minister McKenzie verantwoording doen oor die verlies van Jeffreysbaai se wêreldbyeenkoms
# Die uitvoerende hoof van die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap, Themba Mathibe, is op borgtog vrygelaat na sy inhegtenisneming na ‘n klopjag by die kantore van die Johannesburgse Maatskaplike Behuisingsmaatskappy in Braamfontein, wat met vermeende kontrak-onreëlmatighede verbind word. Mathibe is by sy huis aangekeer nadat hy na bewering met ‘n aansienlike bedrag kontant betrap is. Dit volg minder as twee jaar in sy ampstermyn. Hy is voorheen verbind aan ‘n forensiese ondersoek oor ‘n veiligheidsmuur van byna ‘n miljoen-rand by ‘n ouetehuis wat glad nie bestaan nie.
# Die Gautengse regering het ‘n veldtog van 16-miljoen-rand begin om die verspreiding van bek-en-klouseer in die provinsie te bekamp. Premier Panyaza Lesufi sê 286-duisend entstofdosisse is reeds toegedien, met ‘n verdere 90-duisend wat teen die einde van Maart verwag word. Die veldtog, wat gemik is op veeboere en hoërisiko-gemeenskappe, behels inentings, inspeksies en bewusmakingsveldtogte. Amptenare sê dit het ten doel om voortbestaan te beskerm, voedselsekerheid te verseker en die ekonomiese uitwerking van die siekte op boere en plaaslike gemeenskappe te verminder.
# AfriForum bepleit strenger waarborge en verpligte gemeenskapsbetrokkenheid in die voorgestelde Wetsontwerp op Interregerings-monitering, Ondersteuning en Ingrypings en waarsku dit kan vorige mislukkings herhaal. Morné Mostert van AfriForum sê hul ondersteun sterker ingrypingsmagte en slegs uitgebreide meganismes is nie die oplossing vir munisipaliteite wat ineenstort nie. Hy voer aan die wetsontwerp ignoreer strukturele probleme soos vaardigheidstekorte en swak finansiële bestuur en kritiseer ook die gebrek aan gemeenskapsdeelname:
# Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede waarsku ouers sukkel om plekke te verseker in skole vir kinders met spesiale behoeftes. Die direkteur, Therina Wentzel, het aan SABC News gesê vertragings in plasings neem toe, wat veroorsaak dat sekere kinders tuis moet bly. Sy beklemtoon dit skend die grondwetlike reg op onderwys en vra dringende ingryping om tydige plasings vir leerders met gestremdhede te verseker:
# Branderry: Die DA het ‘n ondersoek begin teen die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, oor die onttrekking van die Wêreld-branderryliga-ope in Jeffreysbaai van 2026 se Kampioenskapstoerkalender. DA-woordvoerder Leah Potgieter sê die regering het nie sy verbintenis nagekom om die geleentheid te ondersteun nie. Sy waarsku dat die stap die Oos-Kaap sowat 100-miljoen-rand aan inkomste kos. Potgieter dring daarop aan dat verdere verliese van groot sportbyeenkomste voorkom word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-299-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-256-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….