Nuus 13:00
BULLETIN 28 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Regering-sake-vennootskap is verbind tot ekonomiese groei in 2026
# Die ANC in Ekurhuleni betreur die dood van sy burgemeesterskomiteelid Andile Mngwevu
# En tennis: Djokovic is deur na die halfeindronde van die Australiese Ope nadat Musetti onttrek
# Die Presidensie sê die regering en die sakewêreld het ooreengekom dat die sentrale raamwerk vir fase drie van die Regering-sake-vennootskap geanker sal wees in inklusiewe groei, werkgeleenthede en vertroue. President Cyril Ramaphosa het gister met ministers en senior sakeleiers vergader. Die vergadering het die vordering hersien wat tydens fase twee gemaak is. Belangrike vordering is gemaak om die energie- en logistieke stelsels te bestendig. Die Presidensie sê daar was eenstemmigheid dat misdaad en korrupsie steeds die grootste ondermyners is van vertroue, belegging en ekonomiese groei.
# Die ANC in Ekurhuleni, Gauteng, het sy hartseer uitgespreek oor die dood van die burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Vervoer, Andile Mngwevu. Die 40-jarige Mngwevu het vermis geraak toe die motor waarmee hy en vriende gereis het, in die Chokwé-streek in Mosambiek deur vloedwater meegesleur is. Sy liggaam is gister gevind ná ‘n soektog van meer as ʼn week. Die ANC se streeksekretaris, Jongizizwe Dlabathi, beskryf die voorval as tragies:
# Die Spesiale Aksiekomitee vir Onderwys veroordeel wat hy beskryf as die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se voortgesette en wraaksugtige vervolging van Wesley Neumann. Die departement het aangekondig hy het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die Arbeidshof se uitspraak ten gunste van Neumann se heraanstelling as hoof van Heathfield High School in Kaapstad. Colleen Titus van die komitee sê hierdie saak gaan nie meer oor net een persoon nie:
# Die Raad op Hoër Onderwys en die Suid-Afrikaanse Aptekersraad het ʼn amptelike ooreenkoms van verstandhouding gesluit. Die doel is om onnodige duplisering van gehalteversekeringsprosesse te verminder, groter duidelikheid te verskaf oor rolle en verantwoordelikhede, en om die las op hoër onderwysinstellings om aptekersprogramme aan te bied, te verlig. Die ooreenkoms sluit in die vorming van ʼn gesamentlike reëlingskomitee om betrokkenheid en die deel van inligting en konflikhantering te lei. Die raad se uitvoerende hoof, Whitfield Green, sê dis ʼn belangrike stap na ʼn meer samehangende gehalteversekeringstelsel.
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, het na die halfeindronde van die Australiese Ope deurgeskraap toe Lorenzo Musetti aan hulle kwarteindstryd moes onttrek. Die Italianer het ‘n bobaan-besering opgedoen terwyl hy 6-4, 6-3, 1-3 voorgeloop het. Djokovic, wat mik na sy 25ste Grand Slam-enkelspeltitel, speel volgende teen die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, of die Amerikaner Ben Shelton. Djokovic sê hy voel jammer vir Musetti:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-829-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-271-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….