Nuus 09:00
BULLETIN 28 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen waarsku dat regsaksie die bek-en-klouseer-inenting kan ontspoor
# Die polisie stel ‘n voorlopige verslag vry oor die dood van drie beamptes in die Hennopsrivier
# En Zelensky veroordeel ‘n Russiese hommeltuigaanval op ‘n passasierstrein
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het kommer uitgespreek oor die prokureursbrief wat van Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou ontvang is. Daarin word geëis dat vee-eienaars toegelaat word om diere privaat in te ent. Dit volg te midde van die land se ergste uitbreking van bek-en-klouseer. Joylene van Wyk van die Departement van Landbou sê hierdie regsgeding wil die Wet op Dieresiektes aanval waaronder die regering binnekort entstowwe sal bekom en die inentingsveldtog begin:
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen die kern van die land se bek-en-klouseer-uitbreking lê binne ‘n regulatoriese stelsel en staatskapasiteit wat nie vir hierdie omstandighede aangepas is nie. Bennie van Zyl van TLU SA sê hierdie uitbreking word ‘n ernstige bedreiging vir Suid-Afrika se voedselsekerheid, landbou-ekonomie en landelike lewensbestaan:
# ‘n Voorlopige verslag oor die dood van drie polisiekonstabels, wie se liggame verlede jaar uit die Hennopsrivier in Centurion, Gauteng, gehaal is, dui daarop dat die voorval ‘n ongeluk was. Konstabels Boipelo Senoge, Keamogetswe Buys en Cebekhulu Linda het op 24 April vermis geraak terwyl hulle van die Vrystaat na Limpopo gereis het. Hul liggame is dae later in die Hennopsrivier gevind. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê die ondersoek is nie volledig nie, aangesien verslae, insluitend forensiese ondersoeke, nog uitstaande is:
# Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky het ‘n dodelike Russiese hommeltuigaanval op ‘n passasierstrein in die noordoostelike Kharkiv-streek veroordeel. Ten minste vyf mense is dood nadat die trein met meer as 200 mense aan boord getref is. Zelensky sê in enige land sal ‘n hommeltuigaanval op ‘n burgerlike trein as ‘n terroriste-aanval beskou word. Hy sê die jongste aanval ondermyn vredespogings en spoor bondgenote aan om druk op Moskou te verhoog om die oorlog te beëindig.
# Branderplankry: Suid-Afrika se ikoniese branderplankbestemming, Jeffreysbaai, sal vanjaar nie ‘n Wêreld-liga-kompetisie aanbied nie weens ‘n gebrek aan befondsing. Die Oos-Kaapse kusdorp is vervang deur Waikato in Nieu-Seeland as een van die 12 bestemmings in die reeks. Die uitvoerende hoof van die liga, Ryan Crosby, sê hulle is lief vir Jeffreysbaai, wat van die wêreld se beste golwe bied, maar die finansiële ondersteuning is nie daar om dit lewensvatbaar te maak nie. Die burgemeester van Kouga-munisipaliteit, Hattingh Bornman, het bevestig dat die plaaslike owerheid nie genoeg geld het om die geleentheid aan te bied nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-29-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-236-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….