Nuus 08:00
BULLETIN 28 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se tariefreguleerder oorweeg dit om die invoertariewe op passasiersvoertuie te verdubbel
# BOSA eis die aanstelling van ‘n permanente minister van Polisie
# En Donald Trump sê die optredes in Minnesota sal afgeskaal word
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Zuko Godlimpi, sê Suid-Afrika gaan nie vyandig wees teenoor lande soos China en Indië deur invoertariewe te hef nie, maar hulle eerder aanmoedig om plaaslik te vervaardig. Die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika oorweeg 50-persent invoertariewe op passasiersvoertuie en 30-persent op voertuigonderdele. In 2024 het die land 22-persent van al sy voertuie uit China ingevoer en 53-persent uit Indië. Godlimpi sê die regering is daartoe verbind om die vervaardigingsektor te beskerm.
# Build One South Africa versoek president Cyril Ramaphosa om ‘n permanente minister van Polisie aan te stel om stabiliteit en verantwoordbaarheid in die leierskap van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te bring. Tydens ‘n besoek gister aan Nyanga- en Delft-polisiestasies in Kaapstad, het die partyleier, Mmusi Maimane, daarop gewys dat albei stasies verlede jaar onder die topvyf stasies met die meeste moorde was. Hy vra verhoogde befondsing, gedesentraliseerde polisiëring en spesialiseenhede om ernstige misdaad aan te spreek en veiliger gemeenskappe te bou:
# Die oorskot van die Ekurhuleni-burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Vervoer, Andile Mngwevu, en drie ander is in Mosambiek gevind. Hy was een van vyf insittendes van ‘n voertuig wat vroeër die maand in die Chokwé-omgewing deur vloedwater meegesleur is. Een passasier is gered. Mosambiekse owerhede en ʼn Suid-Afrikaanse reddingspan was sedert die middel van die maand deel van ʼn uitgebreide soek-en-reddingsoperasie. Die ANC in Ekurhuleni het sy hartseer uitgespreek oor Mngwevu se dood.
# President Donald Trump van Amerika sê hy beplan om die situasie in Minnesota af te skaal. Dit volg na die dood van Renee Good en Alex Pretti aan die hand van immigrasie- en doeane-agente in Minneapolis wat tot wydverspreide betogings gelei het. In ʼn onderhoud met Fox News het Trump gesê Pretti moes nie ʼn wapen gedra het nie, al is daar geen federale of Minnesota-wet wat ʼn versteekte wapen tydens vreedsame betogings verbied nie:
# Krieket: Suid-Afrika het op Bolandpark in die Paarl ʼn oorwinning van nege paaltjies oor die Wes-Indies behaal en loop met 1-0 voor in die T20-reeks van drie wedstryde. George Linde het drie paaltjies laat kantel, en Corbin Bosch en Keshav Maharaj het elkeen twee platgetrek toe die Proteas die besoekers tot 173 vir sewe beperk het. Daarna het kaptein Aiden Markram ʼn onoorwonne 86 van 47 balle behaal om Suid-Afrika se oorwinning te verseker met 13 balle wat oorbly. Die tweede T20 vind môre in Centurion plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-102-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-243-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….