Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Valkehoof in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Lesetja Senona het voor die Madlanga-kommissie getuig hy is verskeie keer deur provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi gedreig.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die direkteur van Accountability Now, advokaat Paul Hoffman SC, het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig die land se strafregstelsel is wanfunksioneel en word deur ‘n kultuur van bedrog en straffeloosheid bedreig.
Dan skryf die webblad slegs drie uit die 51 leerdervervoervoertuie wat in Gauteng nagegaan is, het die inspeksie geslaag.
En laastens is daar nuus oor drie mense wat na bewering gisteraand by ‘n winkelsentrum in Gordonsbaai doodgeskiet is. Volgens die polisie is ‘n onbekende aantal mense gewond.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf brandstofpryse gaan moontlik in Februarie verder daal.
Tweedens word berig die Gautengse regering gaan nou self betrokke raak by die bekamping van bek-en-klouseer in die provinsie.
En laastens is daar nuus oor ‘n mylpaal wat die land bereik het met meer as tien-miljoen besoekers.
# Sowetan:
Berig Tselane Mautla het in die Moretele-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met die skietdood van die vyfjarige Obakeng Minyuku van Hammanskraal. Mautla voer aan die wapen het afgegaan toe sy dit getoets het. Die polisie sê hulle stel ondersoek in of die wapen gelisensieer is.
# En The Citizen:
Skryf die polisie het in samewerking met internasionale wetstoepassingsagentskappe ‘n bedrogsindikaat wat uit Israel bedryf word blootgelê. Daar is ‘n klopjag uitgevoer op oproepsentrums wat uit Bryanston bedryf is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ook oor die Madlanga-kommissie. Genl-maj Lesetja Sesonaisna is na aanleiding van 200-miljoen-rand se kokaïne wat vier jaar gelede by die polisiekantoor in Port Shepstone verdwyn het, ondervra oor sy bande met die sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala.
En tweedens skryf die koerant Knysna se waterbuffer het van 10 dae tot 17 dae verbeter, maar is steeds kritiek.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die motorbedryf in die Oos-Kaap kan nie langer net sit en wag en hoop dat die ekonomie sal verbeter nie.
En skryf tweedens die Nelson Mandelabaai-metroraad het ‘n voorstel dat skuld van 137-miljoen-rand afgeskyf word, verwerp.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die Madlanga-kommissie. Die koerant berig die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Sesona, het bewerings ontken dat hy sy posisie misbruik het om vertroulike inligting aan die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala te lek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Stad Windhoek sê hy staar groot befondsingstekorte in beide behuisingsvoorsiening en padinfrastruktuur in die gesig. Die stad benodig sowat 1,3-miljard-rand.
En tweedens skryf die koerant bedrogslagoffers sê leemtes tussen selfoonoperateurs, banke en wetstoepassing laat swendelaars toe om ongestoord met hul bedrywighede voort te gaan.