Nuus 07:00
BULLETIN 28 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se ad hoc-komitee werk daaraan om Brown Mogotsi te laat getuig
# Meer as 90-persent van leerdervervoer in Soweto slaag nie padwaardigheidstoetse nie
# En die EU en Indië sluit ‘n mylpaal-vryhandelsooreenkoms
# Die parlementêre ad hoc-komitee sê sy regspan werk aan die omstrede sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi, se verskyning. Die komitee ondersoek bewerings van misdadige insypeling, korrupsie en politieke inmengery in die regstelsel. Mogotsi word beskuldig dat hy die tussenganger was vir die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, en vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matlala. Die komiteevoorsitter, Soviet Lekganyane, sê Mogotsi se verklaring is byna gereed:
# Sakeliga, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Agri-inisiatief Saai, en Vrystaat Landbou, het die minister van Landbou, John Steenhuisen, tot 30 Januarie tyd gegee om te bevestig of vee-eienaars wettiglik self bek-en-klouseer-entstowwe mag aankoop en toedien. Regstappe sal gedoen word indien Steenhuisen nie behoorlik reageer nie. Die uitvoerende hoof van Saai, Francois Rossouw, sê goedkeuring vir privaat inenting sal tot ‘n onmiddellike, gedesentraliseerde reaksie op die uitbreking lei en mag nie deur regeringsrompslomp belemmer word nie:
# Die Departement van Paaie en Vervoer in Gauteng berig meer as 90-persent van voertuie wat leerders vervoer in Soweto en omliggende gebiede het nie basiese padwaardigheidstoetse geslaag nie. Van die 51 voertuie wat by Jabulani getoets is, het slegs drie geslaag. Bestuurders het nie lisensies of permitte nie, met dokumente wat verval het, en onveilige buitebande. Die toetse het gevolg ná die ongeluk verlede week in Vanderbijlpark waarin 14 leerders dood is. Die bestuurder van die voertuig het met ‘n ongeldige permit bestuur. Die Departement wil streng maatreëls instel om leerderveiligheid op paaie te verseker.
# Die Europese Unie en Indië het ‘n geskiedkundige en betekenisvolle vryhandelsooreenkoms gesluit. Dis beide kante se grootste ooit. Die EU is reeds Indië se grootste handelsvennoot met 11,5-persent van die Suid-Asiatiese nasie se totale handelsektor. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê in ʼn tyd van toenemende geopolitieke spanning, versterk die ooreenkoms ekonomiese en politieke bande tussen die blok van 27 lande en die wêreld se vierde grootste ekonomie:
# Netbal: Die Protea-afrigter Jenny van Dyk sê die toetsreeks van drie wedstryde teen Engeland laat hulle toe om aan die span se diepte te werk. Daar is twee nuwelinge in die groep van 15, Thulisile Maduna en Tinita van Dyk, en Suid-Afrika probeer meer moontlikhede vir die sirkels kry. Van Dyk sê hulle maak gereed vir die Statebondspele in Julie, maar ook vir die 2027 Wêreldbeker in Australië. Die eerste wedstryd in die reeks vind môreaand by die Ellispark Binnenshuise Arena in Johannesburg plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-171-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-200-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-58-sent per vat.
# En ten slotte: Die polities gelaaide riller, One Battle After Another, met Leonardo DiCaprio en Chase Infiniti in die hoofrolle het 14 benoemings vir die Bafta-filmtoekennings ontvang. Dit sluit in beste regisseur vir Paul Thomas Anderson en beste akteur en aktrise vir DiCaprio en Infiniti. Ryan Coogler se geskiedkundige gruwelfliek, Sinners, het 13 benoemings ontvang wat die meeste in BAFTA-geskiedenis is vir ʼn swart regisseur. Hamnet en Marty Supreme het albei elf ontvang. Die toekeningseremonie vind op Sondag, 22 Februarie, by die Royal Festival Hall in Londen plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….