Nuus 06:00
BULLETIN 28 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid verhaal 1,7-miljard-rand vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente
# Die Vereniging van Staatsamptenare doen ‘n beroep op die Reserwebank om rentekoerse te verlaag
# En rugby: Die Blitsbokke beplan vir sukses in Singapoer
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het 1,7-miljard-rand teruggegee aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, wat toegeken sal word aan studente by hoëronderwysinstellings. Hierdie bedrag is deel van meer as twee-miljard-rand wat die SOE tot dusver teruggekry het van universiteite, TVET-kolleges en studente wat nie gekwalifiseer het vir befondsing nie. Woordvoerder Kaizer Kganyago sê hulle het 126-miljoen-rand ingesamel van een-duisend-55 ouers en nie-kwalifiserende NSFAS-begunstigdes wat ‘n skulderkenning onderteken het:
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy dra geen kennis van breër misdadigheid rondom die Medicare 24-tender nie. Hy sê sy inligting het slegs uit mediaberigte gekom, asook dit wat die sakeman Vusimusi ”Cat” Matlala met hom gedeel het. Senona het ontken dat hy Matlala gehelp het om die SAPD-tender van 360-miljoen-rand te bekom, en het verduidelik nasionale voorsieningskettingbestuur hanteer sulke groot kontrakte, nie KwaZulu-Natal se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die Suid-Afrikaanse Reserwebank gevra om rentekoerse te verlaag tydens môre se Monetêre Beleidskomiteevergadering. Die vakbond glo dat hoë rentekoerse ernstige druk op werkers plaas wat stygende lewenskoste moet trotseer, terwyl dit ook ekonomiese groei vertraag. Claude Naiker van die vakbond voer aan ‘n verlaging in die rentekoers sal die druk op huishoudings verminder, klein besighede ondersteun en help om die ekonomie te bestendig met inflasie wat aanhou daal.
# Die Departement van Gesondheid van Gauteng het bewerings verwerp dat hy nie sy begroting aan gesondheidsorgdienste bestee het nie. Volgens sy moniteringsverslae vir die 2025/2026-boekjaar het die departement eerder ‘n oorbesteding van 1,2-miljard-rand geprojekteer. Dit is hoofsaaklik weens die vereffening van ou skuld, die stygende aantal pasiënte en hoër koste vir medisyne en mediese voorrade. Die waarnemende finansiële hoof, Willie Sambo, sê verslae wat op onderbesteding dui, is misleidend:
# Die voormalige Amerikaanse president Joe Biden het ‘n beroep gedoen op ‘n volledige, billike en deursigtige ondersoek na die noodlottige skietvoorvalle van Renee Good en Alex Pretti. Hulle is albei skaars twee weke uitmekaar deur immigrasie- en doeane-agente in Minneapolis doodgeskiet, wat wydverspreide protesoptogte ontketen het. Biden sê wat die afgelope maand in Minneapolis gebeur het, verraai die basiese waardes van Amerikaners. Hy sê die VSA sal nie toelaat dat sy burgers wreed aangerand word omdat hulle hul grondwetlike regte uitoefen nie. Hy het die mense van Minnesota ook geprys vir hul veerkragtigheid.
# Rugby: Die hulpafrigter van die Blitsbokke, Renfred Dazel, sê die span se sukses in hierdie naweek se sewestoernooi in Singapoer as deel van die wêreldreeks sal afhang van hul vermoë om onverwagte onverwagte struikelblokke te hanteer. Suid-Afrika is tans boaan die punteleer. Hulle het middelmatig vertoon in die eerste toernooi van die nuwe reeks in Dubai maar het in Kaapstad gewen en ook meer drieë as enige ander span gedruk. Die Blitsbokke is sonder die ervare sleutelspelers Selvyn Davids, Ronald Brown en Dewald Human, maar Dazel sê die groep se diepte sal dit kan teenwerk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-204-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-170-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….