Nuus 17:00
BULLETIN 27 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Senona erken hy het ‘n brief aan Vusimusi “Cat” Matlala gestuur oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde
# Gauteng Onderwys ontken ‘n 64-persent besnoeiing in die befondsing vir Kwintiel 5-skole
# En, Japannese panda-liefhebbers neem emosioneel afskeid van die land se laaste twee reusepandas
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het ‘n brief oor die ontbinding van die Taakspan vir Politieke Moorde op eie inisiatief aan sakeman Vusimusi “Cat” Matlala gestuur. Senona sê die brief het op sosiale media gesirkuleer en is as ‘n saak van openbare belang gedeel, maar hy het nie geweet Matlala sou spesifiek daarin belang stel nie. Hy ontken hy het SAPD-aangeleenthede met Matlala bespreek en sê hulle interaksies was bloot sosiaal:
# Die Departement van Onderwys in Gauteng het bewerings verwerp dat befondsing van Kwintiel 5-skole met 64-persent gesny is, en dit as vals en misleidend bestempel. LUR Matome Chiloane sê aanpassings weerspieël nasionale begrotingsbeperkings, nie provinsiale besnoeiings nie, en is tydelike heraanpassings om voldoening aan befondsingstandaarde te verseker. Die woordvoerder vir die Departement, Steve Mabona sê ten spyte van ‘n tekort van 444-miljoen rand vanjaar, gaan onderrig, leer en die betaling van ondersteuningsmateriaal vir leerders en onderwysers ononderbroke voort. Hy vra daar moet op befondsingsoplossings gefokus word:
# Die EFF Youth Command veroordeel die verkoop van plekke aan studente in die hoër onderwyssektor. Woordvoerder, Phumelele Mshumi, sê universiteite het eerstejaars gewaarsku teen bedrieglike boodskappe van derde partye wat hul voordoen as instellings se verteenwoordigers en betaling vra tydens die registrasietydperk. Hy sê swendelaars bied aan om te help met die verkryging van finansiële bystand, studenteverblyf, registrasie en plekke in akademiese programme:
# Sokker: FIFA se voormalige hoof, Sepp Blatter, stel voor dat ondersteuners vanjaar die Wêreldbeker-wedstryde in Amerika moet boikot om veiligheidsredes. Hy steun die kommentaar van die teenkorrupsie-prokureur, Mark Pieth, wat vroeër saam met FIFA aan potensiële hervormings gewerk het. Pieth verwys na die moord op ‘n betoger, Renee Good, wat vroeër die maand deur ‘n Amerikaanse immigrasie-agent in Minneapolis doodgeskiet is as een rede om nie na Amerika te reis nie. Blatter het op sosiale media gesê hy dink Pieth het die situasie reg opgesom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-714-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-86-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 65-dollar-10-sent per vat.
# En laastens, honderde Japannese panda-liefhebbers het emosioneel afskeid geneem van die land se laaste twee reusepandas, Xiao Xiao en Lei Lei, toe hulle uit die Ueno-dieretuin in Tokio na China vertrek het. Toeskouers het die koue trotseer om te sien hoe die dieretuin se gewildste inwoners na die Narita-lughawe vertrek. Die vier-jarige tweeling keer terug na ‘n teelfasiliteit in China, met Japan wat vir die eerste keer in meer as vyf dekades nie meer reusepandas het nie. Alhoewel hulle vertrek lank reeds beplan is, word dit beskou as ‘n teken van verswakkende betrekkinge tussen die twee lande die afgelope maande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….