Nuus 16:00
BULLETIN 27 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Brand in die Paarl-hospitaal is onder beheer met geen beserings aangemeld nie
# Suid-Afrika teken die hoogste internasionale aankomste ooit aan met meer as 10-miljoen besoekers in 2025
# En tennis: Alcaraz bereik sy eerste Australiese Ope-halfeindstryd
# Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand sê hy evalueer die volle omvang van die skade ná ‘n brand in die Paarl-hospitaal vroeër vandag. Verskeie sale is as ‘n voorsorgmaatreël ontruim, maar geen beserings is aangemeld nie. Die departement se woordvoerder, Leensie Lötter, sê hospitaalbedrywighede duur voort in dele wat nie geraak is nie terwyl owerhede die nodige herstelwerk bepaal en beplan:
# Suid-Afrika het sy hoogste aantal internasionale aankomste ooit aangeteken en verlede jaar meer as tien-miljoen besoekers verwelkom. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het op ‘n nuuskonferensie gesê die mylpaal bevestig die groeiende rol wat toerisme in ekonomiese groei, belegging en werkskepping speel. Sy sê die toename weerspieël verbeterde visumstelsels, uitgebreide lugroetes en sterker bemarking van bestemmings, met toerisme wat nou sowat 1,8-miljoen werksgeleenthede landwyd ondersteun:
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het bevestig hy ken die omstrede sakeman Vusimusi “Cat” Matlala. Hy het aan die Madlanga-kommissie gesê Matlala het in 2019 sy tradisionele troue in Pretoria bygewoon. Senona het onthul sy vrou deel ‘n van met Matlala, maar weier om oor enige familiebande uit te brei weens persoonlike kommer. Senona sê hy kan ‘n regsmening inwin voordat hy meer daaroor uitwei:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, is die eerste keer deur na die voorlaaste ronde van die Australiese Ope. Die Spanjaard het maklik afgereken met die plaaslike gunsteling Alex de Minaur in hul kwarteindstryd in Melbourne. Alcaraz het binne net meer as twee uur in skoon stelle gewen, ondanks versengende hitte van meer as 40-grade Celsius. Hy is steeds op koers om die Australiese Ope te voeg by sy ses ander Grand Slam-titels – twee op Wimbledon, twee op die Franse Ope en twee op die Amerikaanse Ope.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-993-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-77-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nomusa Dube-Ncube, het ‘n seremonie gelei om 36 Suid-Afrikaanse gegradueerdes by die Chinese ambassade in Pretoria te verwelkom. Dit volg nadat hulle ʼn spesiale opleidingsprogram voltooi het by die Beijingse Politegniese Kollege in China. Hulle is deel van die eerste groep om voordeel te trek uit samewerking tussen die kollege en nege Suid-Afrikaanse kolleges vir tegniese en beroeps-onderwys en -opleiding. Dube-Ncube sê dis belangrik om internasionale leerervarings in ooreenstemming te bring met nasionale langtermyn-beplanning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….