Nuus 14:00
BULLETIN 27 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke-hoof in KwaZulu-Natal ontken hy dra kennis van die ‘Groot Vyf’-kartel
# Die DA eis wysigings aan Nersa se raad
# En nog atlete sluit aan by die omstrede Opkikker-Spele
# Die Valke se hoof in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het enige kennis oor die sogenaamde “Groot Vyf”-kartel ontken voor die Madlanga-kommissie. Hy verwerp bewerings deur die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo,
en Getuies X en C, insluitend dat hy geheime polisie-inligting uitgelek of sy posisie misbruik het om sy seun, Thato Senona, se vennoot te bevoordeel. Semona het die beskuldigings as kwaadwillig en onwaar afgemaak:
# Die DA vra wysigings aan die raad van die Nasionale Energiereguleerder en sê hy is nie in staat om basiese rekeningkunde te doen nie. Nersa het in September verlede jaar erken hy het ‘n berekeningsfout van 54-miljard-rand begaan met Eskom se inkomste. Dié syfer het glo intussen tot 76-miljard-rand gestyg. Kevin Mileham van die DA sê Suid-Afrikaners sal nou gedwing word om vanjaar sowat 10,5-persent meer vir krag te betaal:
# Die Stad Tshwane het bevestig die Departement van Openbare Werke het 91-miljoen-rand aan agterstallige munisipale rekeninge betaal. Dit volg te midde van ‘n openbare rusie tussen die metro en die Departement van Korrektiewe Dienste weens pogings om die krag na die Kgosi Mampuru-gevangenis af te sny as deel van die metro se Tshwane Ya Tima-optrede. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê talle nasionale en provinsiale departemente skuld Tshwane meer as 1,9-miljard rand:
# Die Verenigde Nasies se Wêreld-ekonomiese Situasie- en Vooruitsigte-verslag vir vanjaar wat in Addis Abeba, Ethiopië, bekendgestel is, dui aan Afrika se ekonomie sal na verwagting vanjaar met vier-persent groei en volgende jaar met 4,1-persent. Die groei word aangevuur deur verbeterde makro-ekonomiese bestendigheid in groot ekonomieë, met Oos-Afrika wat aan die voorpunt is met 5,6-persent. Die VN waarsku egter ‘n hoë skuldlas, beperkte fiskale ruimte, voedselinflasie en wêreldwye onsekerheid bedreig steeds inklusiewe groei. Hy waarsku ook herstel is steeds oneweredig in verskeie streke.
# Sportnuus: Emily Barclay het die jongste Britse atleet geword wat by die omstrede Opkikker-Spele aansluit. Sy is een van drie swemmers in die jongste groep atlete wat die Spele aangekondig het. Die groep sluit twee Olimpiese swemmers in – die Bulgaar Antani Ivanov en die Mexikaan Miguel de Lara Ojeda. Twee vroue-naellopers, Jasmine Abrams van Guyana en Denae McFarlane van Jamaika, is ook ingesluit. Die Spele laat atlete toe om opkikkers te gebruik wat in hoofstroomsport verbied word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-878-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-88-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….