Nuus 13:00
BULLETIN 27 January 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Corruption Watch eis die verwydering van minister Mchunu ná verdoemende getuienis van getuie E
# Cosatu sê die regering moet die Weermagdag-parade van 372-miljoen-rand afstel
# En tennis: Sabalenka en Zverev is deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# Corruption Watch sê president Cyril Ramaphosa het nou genoeg bewyse om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, te verwyder. Getuie E het voor die Madlanga-kommissie beweer Mchunu het hom probeer dwing om te lieg, bewyse op te maak en ‘n vals verhaal te skep teen die hoof van misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo. Corruption Watch se direkteur, Lebogang Ramafoko, sê politieke oorwegings kan nie swaarder weeg as landsveiligheid en -integriteit nie:
# Die vakverbond Cosatu maan die regering om nie voort te gaan met sy beplande Weermagdag-parade met ‘n begroting van 372-miljoen-rand nie. Die geleentheid word vir 21 Februarie in Thohoyandou, Limpopo, beplan. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die vermorsing van skaars hulpbronne is ‘n belediging vir die duisende Weermaglede wat onder uiters moeilike toestande sukkel weens begrotingsbesnoeiings en wanbestuur:
# Suid-Afrikaanse wynuitvoere het verlede jaar onder druk gekom. Volumes het met 13,8-persent gedaal tot 264-miljoen liter. Dis veroorsaak deur wêreldwye ekonomiese onbestendigheid, swakker vraag en logistieke probleme by hawens. Uitvoerwaarde het met 2,4-persent gedaal tot 9,8-miljard-rand. Brittanje bly die vernaamste mark met waarde wat met vier-persent gestyg het ondanks laer volumes, terwyl Amerikaanse volumes met 21-persent gedaal het. Afrika dra nou meer as tien-persent van uitvoerwaarde by, met groei wat deur Kenia, Zambië en Uganda aangehelp is. Bedryfsleiers sê tariewe en verlangsaming in wêreldwye verbruik is sleuteluitdagings.
# Indië se eerste minister, Narendra Modi, sê sy land en die Europese Unie het ‘n mylpaal-handelsooreenkoms gesluit. Hulle worstel teen verslegtende ekonomiese bande met Amerika. Besonderhede oor die ooreenkoms sal na verwagting later vandag bekendgemaak word tydens ‘n gesamentlike beraad in Delhi. Modi sê ná byna twee dekades van onderhandelings, sal die ooreenkoms die weg baan vir Indië om sy enorme mark oop te stel vir vryhandel met die 27 lidlande van sy grootste handelsvennoot.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, is die vierde agtereenvolgende jaar deur na die Australiese Ope se halfeindronde. Die Belarussiese speler het die Amerikaner Iva Jovic geklop. Sabelenka speel volgende teen die derde-gekeurde Amerikaner Coco Gauff of Elina Svitolina van Oekraïne vir ‘n plek in die eindstryd. In die mans-afdeling het Alexander Zverev die Amerikaner Learner Tien in vier stelle verslaan om die halfeindronde die vierde keer te haal. Die Duitser sal sake uitspook teen die top-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz of die plaaslike speler Alex de Minaur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-904-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-86-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….