Nuus 12:00
BULLETIN 27 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vloedsterftes in Limpopo styg tot 25
# Knysna se watervoorraad verbeter tot 17 dae
# En rugby: Rassie Erasmus sê noukeurige beplanning is nodig voor ‘n bedrywige toetsseisoen
# Limpopo se LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, Basikopo Makamu, is hartseer oor die toenemende aantal sterftes weens die gure weer wat die provinsie sedert verlede maand teister. Sy woordvoerder, Amos Phago, sê die algehele aantal mense wat weens oorstromings gesterf het, staan op 25, terwyl die aantal vermiste persone steeds drie is – een van Mbaula en twee van Thulamela:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, is bemoedig deur die vordering om Knysna se waterkrisis te hanteer. Die Akkerkloofdam se vlak het van 15- tot 20,9-persent verbeter. Die huidige watergebruik per dag kom neer op ‘n beskikbare watervoorraad van 17 dae. Bredell sê dis ʼn verbetering op die buffer van tien-dae van twee weke gelede. Hy sê beter waterbestuur is nodig, want huidige voorspellings dui op ʼn droë winter vir die provinsie.
# Gauteng se Departement van Paaie en Vervoer het skoolvervoeroperateurs gewaarsku teen sluitings en intimidasie, en sê nie-nakoming sal nie geduld word nie. Meer as 500 operateurs het gister in Johannesburg vergader om uitdagings oor lisensies te bespreek. Die departement het meer as ‘n duisend lisensie-aansoekvorms uitgereik en operateurs versoek om die vereiste dokumente in te dien. Ouers en voogde word versoek om onveilige voertuie by die provinsiale verkeersinspektoraat aan te meld. LUR Kedibone Diale-Tlabela het beklemtoon leerderveiligheid is nie onderhandelbaar nie.
Nuus uit die buiteland:
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê Europa kan homself nie sonder Amerika se ondersteuning verdedig nie. Dit volg nadat sommige Europese politici ‘n afsonderlike Europese Weermag voorgestel het weens twyfel oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se verbintenis tot die vasteland se sekerheid. Spanning oor Groenland het die kwessie vererger. Rutte waarsku Europese nasies dat hulle verdedigingsbegrotings tot tien-persent verhoog moet word indien hulle dit regtig alleen wil doen:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê noukeurige beplanning en skeppende denke is nodig in die uitdagende 18 maande in aanloop tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika se seisoen skop in Julie af met die eerste Nasies-kampioenskap. In Augustus begin ’n geskiedkundige reeks van vier toetse tussen die Bokke en die All Blacks. Erasmus sê dis belangrik om spelers te bestuur wat oor verskillende kompetisies versprei is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-136-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-79-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….