Nuus 11:00
BULLETIN 27 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Suikerrietkwekers waarsku teen tariefverlagings wat oorlewing kan bedreig
# NAVO se hoof sê Europa kan homself nie verdedig sonder Amerika nie
# En rugby: Rassie Erasmus sê noukeurige beplanning is nodig voor ‘n bedrywige toetsseisoen
# Die SA Suikerrietkwekers waarsku Suid-Afrika se suikertariefhersiening moet landelike werksgeleenthede en voortbestaan beskerm. Die organisasie sê goedkoop ingevoerde suiker verdring reeds plaaslike produkte, wat verlede jaar verliese van bykans 733-miljoen-rand veroorsaak het. Hulle waarsku die verlaging van tariewe kan die plaaslike suikerbedryf vernietig en meer as ‘n miljoen werksgeleenthede in KwaZulu-Natal en Mpumalanga bedreig. Die vereniging gaan die Kommissie van die Internasionale Handelsadministrasie van Suid-Afrika aanspoor om die uitwerking op boere en landelike gemeenskappe in ag te neem.
# Die burgerlike samelewing kry vandag geleentheid om openbare voorleggings in te dien by die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van misdadige insypeling, korrupsie en politieke inmengery in die regstelsel ondersoek. Accountability Now, African Policing Civilian Oversight Forum, die Instituut vir Sekerheidstudies en Gun Free South Africa sal insette lewer. Die fluitjieblaser Patricia Mashale, wie se naam voor die Madlanga-kommissie genoem is, sal ook geleentheid kry om haar voorlegging in te dien.
# Die GOOD-party eis dringende aanspreeklikheid namate die kloof tussen regeringsraamwerke en die werklikheid van geweld in Kaapstad se strate ernstig toeneem. Altesaam 84 mense is die afgelope twee weke vermoor, maar slegs twee verdagtes is in hegtenis geneem. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die drie regeringsfere het in Augustus 2024 ‘n veelbesproke ooreenkoms onderteken vir die integrasie van hulpbronne en intelligensie om misdaad te bestry:
Nuus uit die buiteland:
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê Europa kan homself nie sonder Amerika se ondersteuning verdedig nie. Dit volg nadat sommige Europese politici ‘n afsonderlike Europese Weermag voorgestel het weens twyfel oor die Amerikaanse president, Donald Trump, se verbintenis tot die vasteland se sekerheid. Spanning oor Groenland het die kwessie vererger. Rutte waarsku Europese nasies dat hulle verdedigingsbegrotings tot tien-persent verhoog moet word indien hulle dit regtig alleen wil doen:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê noukeurige beplanning en skeppende denke is nodig in die uitdagende 18 maande in aanloop tot volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika se seisoen skop in Julie af met die eerste Nasies-kampioenskap. In Augustus begin ’n geskiedkundige reeks van vier toetse tussen die Bokke en die All Blacks. Erasmus sê dis belangrik om spelers te bestuur wat oor verskillende kompetisies versprei is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-323-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-87-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….