Nuus 11:00
BULLETIN 24 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staatsprokureur wil meer as 28-miljoen-rand se belastinggeld van Jacob Zuma verhaal
# Action Society beskuldig die polisie van medepligtigheid aan onwettige wapenhandel
# En tennis, Dayana Yastremska en Daniil Medvedev dring deur na die halfeindrondes van die Australiese Ope
# Die staatsprokureur en die Presidensie het met regstappe teen oudpresident Jacob Zuma begin, om meer as 28-miljoen-rand aan belastinggeld terug te kry wat aan die verdediging in sy korrupsieverhoor bestee is. Die Hooggeregshof in Pretoria én die Appèlhof het vroeër beslis dat Zuma nie geregtig is op onbeperkte fondse vir sy verdediging, wat die Presidensie sedert 2005 aan hom voorsien het nie. Zuma het nog altyd volgehou hy is geregtig op volle staatsbefondsing vir sy regskoste omdat hy beskuldig word van misdade wat regstreeks met sy rol in die regering verband hou.
# Action Society beweer die Suid-Afrikaanse Polisiediens is die grootste verskaffer van onwettige vuurwapens. Die beskuldiging volg na die inhegtenisneming van ‘n polisielid van Mitchells Plain in Kaapstad, nadat 15 vuurwapens in November verlede jaar uit die pakkamer weggeraak het. Volgens die organisasie kon die polisie tussen 2005 en 2017 nie rekenskap gee van 26-duisend vuurwapens wat aan lede uitgereik is nie. Action Society se direkteur van Gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron, sê die polisie voorsien wapens aan groot misdaadnetwerke, wat bydra tot die moord op onskuldige landsburgers:
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap sê die Wetsontwerp op Provinsiale Magte wat tans oop is vir openbare kommentaar, is ʼn verleentheid wat voorgee om ernstige wetgewing te wees. Die omstrede wetgewing stel voor spesifieke nasionale regeringsmagte word afgewentel na provinsiale en plaaslike owerhede wat bevoeg beskou word om dit te hanteer. Die party se woordvoerder, Peter de Villiers, sê die wetsontwerp is ʼn DA-manifes wat deur die regering geborg word en is skaamteloos ongrondwetlik.
# Die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, sê sy gaan voort met haar veldtog om as Republikeinse presidentskandidaat aangewys te word omdat die wedloop nog glad nie verby is nie. Dit volg ten spyte van oudpresident Donald Trump se oorwinning in New Hampshire wat hom waarskynlik die party se presidensiële benoeming gaan besorg. Hy het verlede week ook ʼn weghol-oorwinning in Iowa se koukusse behaal. Haley gee Trump die skuld vir die Republikeine se teleurstellende vertoning in 2018 en 2022 se tussenverkiesings, en 2020 se presidentsverkiesing. Sy sê hy is ʼn chaotiese kandidaat:
# Tennis: Dayana Yastremska van Oekraïne is die eerste kwalifiseerder sedert 1978 wat die halfeindronde van die vroue-enkelspel op die Australiese Ope haal. Die 23-jarige speler het die 19-jarige ongekeurde Linda Noskova van die Tsjeggiese Republiek 6-3, 6-4 geklop om die eerste Grand Slam-halfeindronde van haar loopbaan te bereik. Yastremska sal teen Zheng Qinwen van China of die Rus Anna Kalinskaya te staan kom vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd. In die mansafdeling is Daniil Medvedev van Rusland deur na sy derde halfeindronde in vier jaar. Hy het die Pool, Hubert Hurkacz, met 7-6, 2-6, 6-3, 5-7, 6-4 geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-909-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….