Nuus 09:00
BULLETIN 27 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis aanspreeklikheid vir verkragtingsklagtes teen polisiebeamptes
# Die EFF verwelkom Okosa se wysiging van die reëls oor die verval van mobiele databundels
# En die VN se menseregtehoof is bekommerd oor die gewelddadige onderdrukking van die Iranse volk
# Die DA het die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat skriftelik versoek vir die jongste syfers en uitgebreide inligting oor aantygings van verkragting teen beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. In 2022/2023 is 122 verkragtingsake teen SAPD-beamptes aangemeld. Die volgende boekjaar was dit 110 sake, met ‘n verdere 97 sake in 2024/2025. Lisa Schickerling van die DA sê dit is veral kommerwekkend dat minstens 58 van die beweerde 110 verkragtings in 2023/2024 gepleeg is terwyl die beamptes aan diens was:
# Die EFF verwelkom die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika se onlangse regulatoriese veranderinge aan oordrag van ongebruikte, voorafbetaalde lugtyd en data. Van volgende jaar af moet Suid-Afrikaanse telekommunikasiemaatskappye verbruikers toelaat om ongebruikte selfoondatabondels oor te dra. Die EFF sê Suid-Afrikaners, veral armes en werkloses, is jare lank uitgebuit wanneer voorafbetaalde data en lugtyd lukraak verstryk het, al is dit ten volle betaal. Die party sê data en lugtyd behoort nie te verval nie.
# Die ANC in Ekurhuleni het die verkiesing van Dora Mlambo as die Speaker van die Ekurhuleni-metroraad verwelkom. Sy vervang die EFF se Nthabiseng Tshivhenga, wat verlede maand as raadslid bedank het. Mlambo het met 91 stemme gewen, terwyl die kandidate van die DA 69 en die EFF 31 stemme ontvang het. Die ANC in Ekurhuleni se adjunk-streeksekretaris, Moipone Mhlongo, het die uitslag beskryf as ‘n ware weerspieëling van demokratiese prosesse en het vertroue uitgespreek in Mlambo se leierskap:
# Die Verenigde Nasies se Menseregte-hoof, Volker Türk, waarsku die gewelddadige onderdrukking van Iran se mense skep toestande vir verdere onbestendigheid en bloedvergieting. Iranse sekuriteitsmagte se gewelddadige onderdrukking van vreedsame betogings vroeër die maand het volgens berigte tot meer as vyfduisend sterftes gelei. Türk sê Iran is een van die lande waar die doodstraf die meeste toegepas word. Hy sê in 2025 is minstens een-duisend-500 mense tereggestel wat 50-persent meer is as die vorige jaar:
# Tennis: Die Australiese Ope-kwarteindronde begin vandag, met die wêreldnommer een, Carlos Alcaraz, wat teen die tuisgunsteling, Alex de Minaur te staan kom. Alcaraz het tot dusver nog geen stelle afgestaan nie, maar De Minaur gaan waarskynlik ‘n groot toets wees in sy veldtog om die toernooi te wen. Die kwik sal na verwagting 45 grade Celsius bereik en die dak by die Rod Laver Arena sal waarskynlik toe wees. Alcaraz het ‘n perfekte 5-0 rekord teen De Minaur, maar hulle het nog nooit by ‘n Grand Slam-toernooi kragte gemeet nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-738-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-73-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….