Nuus 08:00
BULLETIN 27 Januaie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA se Groen Sambreel-projek kry momentum voor die plaaslikeregeringsverkiesing
# Die Parlement se Gesondheidskomitee is bekommerd oor die ARV-verskaffers wat onder sakeredding geplaas word
# En Donald Trump sê daar is vordering na ’n telefoonoproep met die burgemeester van Minneapolis
# ActionSA-leier Herman Mashaba sê die party se koers is bepaal deur buitengewone groei in landelike gemeenskappe en stedelike sentrums. Die party het nog twee gemeenskapsorganisasies, die Azanian Independent Community Movement en die Creatives Congress Movement, verwelkom om in die komende munisipale verkiesing onder sy Groen Sambreel-projek te staan. Mashaba sê ActionSA hou sy deure oop vir alle politieke partye en burgerlike bewegings wat soos hy dink en die waardes en toewyding deel om ‘n bevoegde, etiese staat te bou:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid sê hy is bekommerd oor berigte dat die twee verskaffers wat kontrakte het om teenvigsmiddels aan die Departement van Gesondheid te verskaf, in sakeredding geplaas is. Avacare Health se filiale Barrs en Innovata en nog nege maatskappye het verlede jaar ‘n deel van die tender ontvang om dié middels te verskaf. Barrs en Innovata het egter om sakeredding aansoek gedoen slegs dae nadat die tender werking ingetree het. Die komitee sê hy verwelkom die departement se versekering dat daar genoeg teenvigsmiddels vir die volgende drie maande is.
# Die Motorbedryf Personeelvereniging verwelkom die Chinese motorvervaardiger Chery se belegging in Suid-Afrika, na die verkryging van Nissan se historiese Rosslyn-aanleg in Pretoria. Die vakbond glo hierdie stap sal verseker dat die meeste van die geaffekteerde Nissan werknemers sal aanbly en die vervaardigingskapasiteit nie afneem nie. Sonja Carstens van die vereniging sê Chery stel ‘n voorbeeld en wys dat plaaslike produksie noodsaaklik is vir die oorlewing van die motorbedryf en die skep van nuwe werksgeleenthede:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het ʼn positiewe telefoongesprek met Minneapolis se Demokratiese burgemeester, Jacob Frey, gehad en hulle maak vordering. Dit volg nadat Grensbeheer Saterdag die 37-jarige Alex Pretti in Minneapolis doodgeskiet het. Grensbeheer se topamptenaar, Gregory Bovino, en sommige van sy agente sal volgens berigte Minneapolis vandag verlaat. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt sê niemand, ook nie president Trump nie, wil hê mense moet in Amerikaanse strate seerkry of sterf nie:
# Krieket: Lhuan-dre Pretorius en Eathan Bosch is ingesluit by die Protea-groep wat die Wes-Indies vanaand in die eerste van drie T20-toetse in die Paarl takel. Hulle vervang die SA20-eindstrydspelers, Quinton de Kock, Marco Jansen en Tristan Stubbs van Sunrisers Eastern Cape. David Miller herstel van ʼn liesbesering en is nie beskikbaar nie. Anrich Nortje, Dewald Brevis, Keshav Maharaj en Lungi Ngidi is beskikbaar, al het hulle in die SA20-eindstryd gespeel. Die reeks dien as voorbereiding vir die komende T20-Wêreldbeker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-525-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-66-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….