Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig volgens Getuie E voor die Madlanga-kommissie het die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu hom herhaaldelik genader om in sy getuienis voor die kommissie te jok om Mchunu in ‘n beter lig te stel. Volgens verdere getuienis voor die kommissie het die minister na bewering in ‘n aantal sake ingemeng by getuies.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig oor die ANC-stembriewe van die party se streekkonferensie wat in ‘n tuin by ‘n huis in Pretoria gevind is. Die streeksekretaris van die ANC in Johannesburg, Sassabona Manganye sê wat hulle betref was die stemproses tydens die konferensie vry en regverdig.
Dan skryf die webblad ook oor Getuie E se getuienis oor Mchunu voor die Madlanga-kommissie. Die getuie sê Mchunu het hom genader om inligting oor die polisie se politiekemoord-taakspan in KwaZulu-Natal te verkry sodat hy hulle in ‘n swak lig kon stel.
En laastens is daar nuus oor die komende verkiesing. In die stadium blyk dit dat die leier van ActionSA, Herman Mashaba teen Helen Zille van die DA te staan kan kom as burgemeester vir Johannesburg.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf duisende voertuie waarop beslag gelê is in Tshwane gaan moontlik vernietig word.
En tweedens is daar ook ‘n berig oor die Mchunu-getuienis voor die Madlanga-kommissie waarvolgens hy getuies gedwing het, en die stembriewe van die ANC se streekskonferensie wat in ‘n tuin in Tshwane opgespoor is.
# Sowetan:
Berig ook oor Mchunu. Die koerant skryf indien die aantygings teen die geskorste minister waar is, kan hy van regsverydeling aangekla word.
# En The Citizen:
Skryf 725-miljoen-rand van Gauteng se gesondheidsbegroting gaan moontlik terugbetaal word aan die Tesourie aangesien dit nie bestee is nie. Volgens kenners moes die fondse aangewend word om tekorte in medikasie aan te vul, onbetaalde fakture te hanteer en is dit die gevolg van vakante dokter- en verplegingsposte.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens soos Netwerk24 oor die verdoemende getuienis teen Senzo Mchunu. Die koerant skryf Getuie E het een bom na die ander laat bars oor die geskorste minister se kop.
En tweedens skryf die koerant die vermeende moordenaar van die oudspeurder Anneke van Heerden, die 57-jarige kunstenaar Bevan van Druten, gaan nie vir psigiatriese waarneming verwys word nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is geringe hoop dat die krag na groot dele van Gqeberha herstel kan word. Maar die munisipaliteit sê dit kan tot 14 dae duur en sal sowat 10-miljoen-rand kos.
En tweedens skryf die koerant die oortydrekening van die munisipaliteit skiet steeds die hoogte in.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Het nuus oor ‘n debatsafrigter wat leerders bedrieg het, ‘n moordenaar wat vyf keer lewenslank gevonnis is en die sterk groei van die rand die afgelope dae.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese Studente Finansiële Bystandsfonds het meer as 400-miljoen-rand by drie opleidingsinstansies beskikbaar gestel om verdienstelike studente te ondersteun.
En tweedens skryf die koerant ‘n vismaatskappy sê die regering bevoordeel net ‘n paar uitgesoekte maatskappye en individue onder sy indiensnemingsherstelprogram.