Nuus 07:00
BULLETIN 27 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nasionale Tesourie sê die 2026-begroting sal wys dat die regering op koers is om skuld te verminder
# Die DA wil aanspreeklikheid hê oor die duur Weermagdag-vertoning
# En die oorskot van die laaste gyselaar in Gaza is herwin
# Die Nasionale Tesourie se direkteur-generaal, Duncan Pieterse, sê dis belangrik om fiskale geloofwaardigheid te verbeter en die publiek se vertroue in die begroting te versterk. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal sy begrotingsrede op 25 Februarie lewer. Pieterse sê in ‘n hoofartikel in Business Day, die begroting sal wys dat regeringskuld die eerste keer in byna 20 jaar teenoor bruto binnelandse produk stabiliseer. Hy sê die begroting sal ook ʼn derde agtereenvolgende primêre surplus toon, wat fiskale geloofwaardigheid en ekonomiese groeivooruitsigte ondersteun.
# Die DA sê volgende maand se vieringe vir Gewapende Magte-dag in Thohoyandou, Limpopo, die tuisdorp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaghoof Rudzani Maphwanya, bewys verdedigingsprioriteite is buite beheer. Die party waarsku die SANW sukkel met vliegtuie op die grond, projekte wat nie vorder nie en mislukte militêre gesondheidsorg. Chris Hattingh van die DA sê die besteding van ongeveer 372-miljoen-rand aan ‘n militêre parade neem hulpbronne weg wat nodig is vir die opleiding en versorging van soldate:
# Die ANC-streeksekretaris vir die Groter-Johannesburg-streek, Sasabona Manganye, ontken dat die streek se 16de verkiesingskonferensie in Desember gemanipuleer is. Stembriewe wat by die konferensie gebruik is waar Loyiso Masuku ʼn naelskraapse oorwinning oor Dada Morero as die party se streeksvoorsitter behaal het, is Sondag by ʼn huis in Pretoria gevind. Die stembriewe moes veilig en verseël bewaar en aan die ANC terugbesorg word. Manganye sê die konferensie se verkiesingsproses was inklusief, geloofwaardig en grondwetlik betroubaar:
# Die Hooggeregshof in Durban, KwaZulu-Natal, sê die saak van 62 vermeende aanhitsers van die onrus in Julie 2021 is nou hofgereed. Meer as 300 mense is in die onluste in KZN en Gauteng dood. Die voormalige Fees Must Fall-aktivis en vermeende aanhitser, Bonginkosi Khanyile, het aan die hof gesê die onluste het niks te doen gehad met sy oproepe vir voormalige president Jacob Zuma se vrylating uit die tronk nie. Natasha Ramkisson-Kara sê die staat sal getuies roep, insluitend misdaadkundiges en digitale ontleders:
# Die Israelse weermag het die oorskot van die laaste gyselaar in Gaza opgespoor. Ran Gvili, ʼn Israelse polisiebeampte, is op 7 Oktober 2023 dood in ʼn geveg met Hamas-geleide militante. Hulle het sy liggaam na Gaza geneem as bedingingsmiddel. Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê Gvili se terugkeer is ʼn buitengewone prestasie en beskryf hom as ʼn held. Die terugkeer van Gvili se oorskot baan die weg vir verdere vordering in die Gaza-skietstilstand, insluitend die heropening van die belangrike Rafah-kruising tussen Gaza en Egipte.
# Rugby: Die Walliese kaptein, Dewi Lake, sê hulle wil ‘n nuwe begin maak onder die nuwe afrigter, Steve Tandy, in volgende naweek se Sesnasies-openingswedstryd teen Engeland op Twickenham. Wallis het hul laaste elf wedstryde in die kompetisie verloor en kon slegs twee van hul vorige 20 Sesnasieswedstryde wen. Lake sê Tandy het reeds baie klem gelê op die waardes wat hy in die groep wil vestig. Hy besef die Engelse kragmeting is ‘n groot geleentheid om hulself teen die beste te toets.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-326-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-67-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….