Nuus 06:00
BULLETIN 27 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa doen ‘n beroep op ‘n hernude fokus op beleggings en infrastruktuurontwikkeling
# Business Leadership SA sê vordering met hervorming gee Suid-Afrika ’n voordeel
# En Ace Magashule is ontevrede oor die voortdurende vertragings in die asbeskorrupsieverhoor
# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep gedoen op hernude fokus op beleggings en infrastruktuurontwikkeling. Die regering het meer as een-duisend-miljard-rand se openbare fondse vir infrastruktuurprojekte oor die volgende drie jaar beskikbaar gestel. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die regering het reeds ‘n sterk fondament gelê vir verhoogde infrastruktuurbelegging deur regulasies te stroomlyn, openbaar-privaat vennootskappe te fasiliteer en instellings soos Infrastructure South Africa te versterk. Hy sê die Kabinet se komende jaarlikse lekgotla sal die stappe uiteensit wat regoor die regering met maatskaplike vennote gedoen sal word om sekere doelwitte te bereik.
# Business Leadership South Africa sê die regering se voortgesette binnelandse hervormings sal tot blywende werksgeleenthede en beleggings lei. In haar weeklikse nuusbrief sê uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, vooruitgang in elektrisiteit, logistiek, plaaslike regering en die strafregstelsel is van kritieke belang om verbeterde internasionale geloofwaardigheid in langtermyn- ekonomiese groei te omskep. Mavuso het bygevoeg onlangse prestasies, insluitend bestendige kragvoorsiening en logistieke hervormings, het beleggersvertroue verbeter, maar waarsku volgehoue lewering tuis sal bepaal of beleggings in werklike werksgeleenthede en ekonomiese herstel omskep word.
# ‘n Geheime misdaadintelligensie-beampte, Getuie E, het gister aan die Madlanga-kommissie gesê die minister van Polisie Senzo Mchunu het gevra of die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, betrokke was by die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa, in 2017. Getuie E sê hy het Mchunu uitdruklik ingelig Khumalo was nie in KwaZulu-Natal nie en het eers ná die moord by Misdaadintelligensie aangesluit. Hy verduidelik alle besonderhede rakende daaropvolgende ondersoeke en verklarings is aan senior amptenare gerig:
# Die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule is ontnugter oor die voortgesette vertragings in sy asbeskorrupsieverhoor. Hy en 16 van sy medebeskuldigdes staan tereg op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met ‘n twyfelagtige tender van 255-miljoen-rand vir die vervanging van asbesdakke in die Vrystaat. Hulle het gister in die Bloemfonteinse Hooggeregshof verskyn, waar die saak tot 2 Maart uitgestel is. Magashule sê die voortdurende uitstel plaas ‘n finansiële las op die beskuldigdes:
# Die weermag van Suid-Soedan het alle burgerlikes beveel om drie distrikte in Jonglei te ontruim voor ‘n operasie teen opposisiemagte. Alle personeel van die Verenigde Nasies se sending in Suid-Soedan en ook werkers van nie-regeringsorganisasies, is beveel om die drie distrikte binne 48 uur te ontruim. Van die ergste gevegte sedert 2017 het plaasgevind in Jonglei, wat in die ooste van die land op die grens met Ethiopië geleë is. Die South Sudan People’s Defence Forces probeer om ‘n offensief deur vegters wat lojaal is aan die Sudan People’s Liberation Army-in-Opposition te keer.
# Krieket: Die kaptein van Pretoria Capitals, Keshav Maharaj, glo die hoogs betaalde speler in die SA20-reeks, Dewald Brevis, gaan ‘n groot faktor wees in die T20-Wêreldbeker, wat volgende Saterdag in Indië en Sri Lanka begin. Brevis het in die laaste wedstryde van die kompetisie uitstekend gespeel, met onder meer ‘n honderdtal in die eindstryd teen Sunrisers Eastern Cape. Dit het sy totale aantal lopies op 370 te staan gebring. Maharaj, wat sy kaptein was, sê die 22-jarige Brevis het volwassenheid in die laaste paar wedstryde getoon en kan net beter word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-57-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-9-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….