Nuus 18:00
BULLETIN 26 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Anthony Gopaul bevestig Senzo Mchunu het die gebruik van die taakspan vir Politieke Moorde in Mabhida-moord bevraagteken
# Die Ace Magashule-korrupsiesaak word weereens uitgestel
# En, die VF Plus bepleit strenger beheermaatreëls te midde van bek-en-klouseer-uitbreking
# Die waarnemende adjunk- provinsiale kommissaris vir Misdaadopsporing in KwaZulu-Natal, Anthony Gopaul, het aan die Madlanga-kommissie gesê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het bevraagteken waarom die moord op die ANC-raadslid vir Mandeni Wyk 18, Phendukani Mabhida, deur die Taakspan vir Politieke Moorde behartig is en nie deur die plaaslike polisiestasie nie. Gopaul sê Mchunu het opdrag gegee dat politieke moorde op stasievlak ondersoek moet word. Hy het aan die minister gesê die taakspan was beter toegerus om sake te verbind en huurmoordenaars se netwerke te verstaan:
Intussen het ‘n geheime misdaadintelligensie-agent, bekend as Getuie E, aan die kommissie gesê hy het weke voor die moord in 2017, ‘n komplot ontdek om die voormalige ANC-jeugliga-sekretaris-generaal, Sindiso Magaqa, te vermoor. In sy getuienis agter geslote deure het Getuie E gesê hy het senior polisiebeamptes van Misdaadintelligensie gewaarsku en stappe voorgestel om die moord te keer, maar is geïgnoreer. Hy het getuig die huurmoordenaars het bevestig dat senior beamptes hulle sou bystaan:
# Die Hooggeregshof in Bloemfontein het die 255-miljoen-rand-asbesdak-korrupsieverhoor tot 2 Maart uitgestel. Die oud-premier Ace Magashule, sy voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, en 15 ander staan tereg op meer as 70 aanklagte, insluitend bedrog, geldwassery en korrupsie wat verband hou met ‘n asbestender in 2014. Vertragings is veroorsaak deur ‘n binneverhoor en Cholota se onwettige uitlewering uit die VSA in 2024. Regter Phillip Loubser het kommer uitgespreek dat die saak weereens uitgestel is:
# Die Vryheidsfront Plus doen ‘n beroep op owerhede om gebiede waar bek-en-klouseer nog nie voorkom nie, te beskerm te midde van ontwrigtings in veemarkte. Wynand Boshoff van die party beklemtoon besmette diere moenie vervoer word nie en dokumente wat ‘n siektevrye status bewys, is noodsaaklik. Hy sê provinsiale grense en veilingskrale is belangrike beheerpunte en op landelike paaie moet daar met plaaswagte saamgewerk word. Die party vra ook dat voertuie ontsmet word, inentings toegedien word asook samewerking met boere:
# Tennis: Die jong Italianer Lorenzo Musetti het onderneem om die tienmalige kampioen, Novak Djokovic behoorlik te toets wanneer hulle in die kwarteindronde van die Australiese Ope ontmoet. Die 23-jarige Musetto is vir die eerste keer deur na die kwarteindronde nadat hy Amerikaner Taylor Fritz in skoon stelle verslaan het. Die 38-jarige Serwiër is onder die laaste agt nadat die Tsjeggiese speler Jakub Mensik weens ‘n besering onttrek het. Musetti kon die voormalige wêreldnommer-een slegs een keer in hul vorige tien ontmoetings wen, maar sê hy het baie verbeter en sy ingesteldheid is nou anders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-646-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-82-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….