Nuus 16:00
BULLETIN 26 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Helen Zille ontken dat sy Patrice Motsepe vir die ANC-presidentskap onderskryf het
# Gopaul sê Mchunu het geen duidelike rede vir sy belangstelling in die Mabhida-saak verskaf nie
# En rugby: Kommer oor beserings in die Haaitenk ná die kragmeting met die Stormers
# Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, ontken bewerings dat sy die miljardêr Patrice Motsepe as ‘n moontlike opvolger vir Cyril Ramaphosa as ANC-president onderskryf het. Zille sê haar opmerkings is uit verband geneem, en beklemtoon sy is nie betrokke by die ANC se interne sake nie. Sy het regeer op mediaberigte en beskuldig joernaliste dat haar woorde verdraai is om steun te werf. Zille sê om ‘n moontlike oorgang as naatloos te beskryf beteken nie ‘n onderskrywing nie en die berigte is misleidend.
# Die waarnemende adjunk-polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Anthony Gopaul, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het geen behoorlike verduideliking ontvang vir die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se belangstelling in die moord op die ANC se wyksraadslid in Mandeni nie. Phendukani Mabhida is in Februarie verlede jaar in sy huis in Sundumbili vermoor, kort nadat hy sy bekommernis oor korrupsie geopper het. Gopaul sê Mabhida se partyverbintenis het moontlik ‘n rol gespeel:
# Die voormalige regter van die Konstitusionele Hof, Johann Kriegler, sê die uittredende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het met ‘n onmoontlike taak geworstel tydens haar tydperk van sewe-jaar in die Nasionale Vervolgingsgesag. Batohi vertrek die einde van die maand. Kriegler merk op sy kon nie die stukrag of openbare vertroue ten volle herstel nie, maar voeg by die herstel van die instelling is ‘n lang projek. Hy beklemtoon die heropbou van die NVG sal sterk uitvoerende steun en volgehoue nasionale toewyding vereis.
# Die Stad Kaapstad sê hy is al vir langer as ‘n dekade besig om sy teenwoordigheid op die metro se hoofroetes uit te brei. In die afgelope sewe maande het die Openbare Noodkommunikasiesentrum reageer op agtduisend-552 noodoproepe op snelweë, waarvan 86 misdaadverwant was. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê stadsagentskappe het 148 mense aangekeer as deel van hul snelwegpatrollies:
# Rugby: Die Haaie se oortuigende oorwinning oor die Stormers in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-derbie in Kaapstad het gelei tot beseringsbekommernisse vir hoofafrigter JP Pietersen voor die komende naweek se herontmoeting in Durban. Die Springbok-haker, Bongi Mbonambi, het reeds die wedstryd misgeloop nadat hy ‘n besering opgedoen het tydens die kapteins-oefening, en die losvoorspelers Manu Tshituka, Phepsi Buthelezi en Siya Kolisi is almal hinkepink van die veld af. Pietersen verwag ‘n reusestryd op Kingspark nadat sy span die Stormers hul plek bo-aan die punteleer gekos het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-760-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-89-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….