Nuus 14:00
BULLETIN 26 Jnuarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Borgtog word geweier aan die beskuldigde in die DJ Warras-moordsaak
# Ramaphosa sê Suid-Afrika moet sy mededingendheid verskerp en sy markte uitbrei
# En tennis: Sinner reken maklik af met Darderi om die kwarteindronde in Melbourne te haal
# Die beskuldigde in die moord op die mediapersoonlikheid Warrick “DJ Warras” Stock, Victor Majola, is borgtog geweier deur die Johannesburgse Landdroshof. Hy staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en sameswering nadat Stock op 16 Desember naby die Carlton-sentrum doodgeskiet is. Die landdros het Majola se gebrek aan ‘n vaste adres, teenstrydige alibi en onbetroubare videobewyse aangehaal om borgtog te weier. Die saak is tot 11 Februarie uitgestel vir verdere ondersoeke.
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet sy mededingendheid verskerp en markte uitbrei, veral in Afrika. Wêreldwye groei sal na verwagting oor die mediumtermyn gedemp bly, en baie lande worstel weens verhoogde handels- en geopolitieke spanning. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die Presidensiële Ekonomiese Raadgewende Raad het die regering versoek om openbare infrastruktuur-besteding te verhoog en dit goedkoper te maak om sake te doen. Hy sê toenemende infrastruktuurbelegging gaan nie net daaroor om meer te bestee nie, maar om projekte te lewer wat werk skep.
# Die DA in Tshwane sê hy gaan ‘n opsporingsagent aanstel om die omstrede tenderpreneur, Edwin Sodi, te vind en die inligting aan die metro en Nasionale Tesourie oorhandig. Volgens ʼn verslag van die metro het herhaalde pogings misluk om Sodi en sy vennote in kennis te stel dat hulle op die swartlys geplaas word. Die DA se koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, sê die ANC-geleide koalisie se verskonings is nou op:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, het maklik met sy Italiaanse landgenoot Luciano Darderi afgereken om die kwarteindronde van die Australiese Ope te haal. Darderi het in die derde stel teruggeveg, maar die wêreld-nommer-twee het in skoon stelle gewen. Sinner speel volgende teen die agtste-gekeurde Amerikaner Ben Shelton of die Noorweër Casper Ruud. Die eerste-gekeurde Carlos Alcaraz van Spanje, die plaaslike speler Alex de Minaur, Lorenzo Musetti van Italië, Novak Djokovic van Serwië, Alexander Zverev van Duitsland en die Amerikaner Learner Tien is ook deur na die kwarteindronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-755-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-87-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Gesondheid, in vennootskap met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingnsraad, bied van vandag tot Woensdag’n driedaagse Digitale Gesondheidsprojek op ‘n gesamentlike bedryfsplatform in Pretoria aan. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit vorm deel van voortgesette pogings om die doeltreffendheid van digitale gesondheidsplatforms te verbeter om ‘n veerkragtige en billike gesondheidsorgstelsel te skep wat gesondheid vir almal kan lewer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….