Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Sunrisers Eastern Cape het hulle derde SA20-titel gewen toe hulle Pretoria Capitals met ses paaltjies afgeransel het op ‘n volgepakte Nuweland in Kaapstad. Capitals het eerste gekolf en 158 vir sewe op die telbord geplaas. Dewald Brevis het 101 van 56 balle gemoker en Marco Jansen het drie paaltjies platgetrek. Matthew Breetzke het daarna ʼn onoorwonne 68 aangeteken en kaptein Tristan Stubbs 62, en Sunrisers het die teiken gehaal met vier balle oor. Hulle het nou drie van die vier SA20-toernooie gewen.
Ander krieketnuus: Suid-Afrika kan nie meer die halfeindronde van die Onder 19-Wêreldbekertoernooi haal nie nadat hulle in die Namibiese hoofstad, Windhoek, met ses paaltjies verloor het teen die heersende kampioen, Australië. Die jong Proteas is vir 118 uitgeboul nadat Charles Lachmund drie paaltjies geneem het. JJ Basson het daarna ook drie kolwers uitgehaal, maar aanvangskolwer Steven Hogan het 43 bygedra en Australië het die wenteiken binne 33 boulbeurte bereik. Suid-Afrika sal Donderdag teen Sri Lanka speel in hul laaste Super Ses-wedstryd voordat hulle hul toernooi met ‘n plasingwedstryd afsluit.
# Tennis: Die Amerikaner Jessica Pegula het haar landgenoot en verdedigende vroue-enkelspelkampioen, Madison Keys, verslaan om die vierde keer die Australiese Ope se kwarteindronde te haal. Sy speel nou teen nog ʼn Amerikaner, Amanda Anisimova, wat met Wang Xinyu van China afgereken het. In die mansafdeling het Lorenzo Musetti sy eerste kwarteindronde in Melbourne gehaal toe hy Taylor Fritz verslaan het. Die Italianer pak nou die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, wat onder die laaste agt is nadat die Tsjeg Jakub Mensik weens ʼn maagspierbesering moes onttrek.
# Gholf: Die Zimbabwiër Benjamin Follett-Smith het die Cell C-uitdaging-titel op die Killarney-buiteklub in Johannesburg met een hou weggeraap voor die Suid-Afrikaner, Haydn Porteous. Dis sy derde Sonskyntoer-titel. Die Suid-Afrikaner Kieron van Wyk was derde op 11 onder baansyfer. Die toernooi is ter ere van Gary Player gehou. Follett-Smith sê hy is tevrede met sy spel:
# En laastens, Amerikaanse voetbal: Die Seattle Seahawks het die Los Angeles Rams in die NFC-kampioenskapswedstryd met 31-27 verslaan en hul vierde Super Bowl-verskyning bespreek. Jaxon Smith-Njigba van Seahawks het geskitter met tien vangskote en ʼn druk, terwyl quarterback Sam Darnold die bal drie keer gedruk het. Intussen het die Patriots hul plek in hul 12de Super Bowl bespreek na hul sege van 10-7 oor die Denver Broncos. Vanjaar se eindstryd op 8 Februarie is ʼn herhaling van dié van 2015, toe die Patriots die Seahawks verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….