Nuus 09:00
BULLETIN 26 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom Suid-Afrika se keuse as gasheer vir die 2027 Wêreld Ekonomiese Forum Afrika-beraad
# Die Nkabinde-ondersoek na Andrew Chauke se geskiktheid om sy amp te beklee, word vandag hervat
# En Tshwane verduidelik sy optrede oor Korrektiewe Dienste se Kgosi Mampuru-skuld
# Die regering verwelkom die Wêreld Ekonomiese Forum se besluit dat sy 2027-Afrikaberaad in Suid-Afrika aangebied word. Die beraad is in 2019 laas in Kaapstad gehou maar was sedert die Covid-19-pandemie in 2020 op die lange baan geskuif. Die regering se waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die aanbieding van die beraad sal die toerismesektor ‘n hupstoot gee, ekonomiese groei ondersteun en werksgeleenthede skep in die gasvryheidsbedryf, asook in vervoer, logistiek en verwante waardekettings:
# Die Nkabinde-ondersoek na die geskiktheid vir sy amp van die geskorste Direkteur van Openbare Vervolging vir Suid-Gauteng, advokaat Andrew Chauke, word vandag hervat. Chauke is in Julie geskors nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, hom by President Cyril Ramaphosa verkla het oor verskeie sake waarin hy na bewering teen vervolging besluit het. Ramaphosa het Chauke geskors hangende ‘n ondersoek na sy geskiktheid. Batohi is steeds ingesweer en is veronderstel om haar getuienis te hervat. Dit is egter nie duidelik of sy sal verskyn nie ná die omstrede voorval verlede jaar toe sy uit die verhoor gestap het.
# Die Stad Tshwane sê hy is bewus van die departement van Korrektiewe Dienste se verklaring oor die metro se plan om die Kgosi Mampuru-gevangenis se krag af te sny. Die departement het die burgemeester, Nasiphi Moya, oor die beoogde stap gekritiseer te midde van die tronk se beweerde skuld van agt-miljoen-rand vir nutsdienste. Die departement voer aan die skuld is op ‘n verkeerde rekeningstaat gebaseer. Die woordvoerder van die metro, Lindela Mashigo, sê hul faktuurstelsel toon egter die agterstallige skuld en dit was die hoofrede vir verlede week se besoek aan die gevangenis:
# Die Israelse weermag sê hy is met ʼn grootskaalse operasie besig om die oorskot van die laaste gyselaar in Gaza te vind. Israel weier om met fase 2 van die Gaza-vredesplan, insluitend die heropening van die Rafah-kruising, voort te gaan voor Ran Gvili se liggaam teruggegee is. Die Israelse weermag soek in ʼn begraafplaas in die noorde van Gaza. Hamas sê hy het alle inligting oor Gvili se oorskot aan Israel oorhandig, en beskuldig Israel dat hy pogings belemmer om na die liggaam te soek in gebiede onder sy beheer.
# Sokker: Manchester United het die Premierliga-leiers, Arsenal, op die Emirates-stadion met 3-2 afgeransel in die Gunners se eerste nederlaag van die seisoen op hul tuisveld. Bryan Mbeumo, Patrick Dorgu en Matheus Cunha se doele het United na die vierde plek laat opskuif. Arsenal se voorsprong op die punteleer is nou slegs vier na Manchester City en Aston Villa se oorwinnings. Arsenal-bestuurder Mikel Arteta sê nederlae is deel van die spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-350-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-72-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….