Nuus 09:00
BULLETIN 24 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan vra die Parlement om ‘n voorstel te oorweeg vir munisipaliteite om tariewe aan te pas
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met verlede jaar se dodelike Marshalltown-brand
# En motorsport, Madrid gaan die Spaanse Formule Een Grand Prix van 2026 af aanbied
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die Parlement gevra om sy voorstel te oorweeg dat munisipaliteite hulle kragtariewe mag wysig. Hoewel verlede jaar die laagste kragvoorraad opgelewer het sedert beurtkrag 16-jaar gelede begin het, het die Nasionale Energie-reguleerder ‘n verhoging van 12.74-persent vir 2024/25 goedgekeur. Eskom se regstreekse verbruikers sal op 1 April meer moet begin betaal. Gordhan vra dat munisipaliteite kans moet kry om die verhogings in hulle begrotings in te sluit vanaf Julie. Die verhoging sal die goedkoopste tarief tot meer as twee-rand per eenheid laat styg.
# Die polisie in Gauteng het ‘n verdagte in hegtenis geneem in verband met die brand in die Usindiso-gebou in Marshalltown in Johannesburg. ’n Man, bekend as Meneer X, het gister vrywillig in camera voor die Kommissie van Ondersoek na die brand in die Usindiso-gebou getuig dat hy die brand begin het, wat verlede jaar die lewens van 76 mense geëis het. Hy het aan die ondersoekkommissie gesê hy het die brand op die grondvloer van die gebou gestig, omdat hy probeer het om ‘n moord wat hy gepleeg het, te versteek. Die polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê die 29-jarige staan tereg op verskeie aanklagte:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sê die Kluitjieskraal-brand woed steeds buite beheer in die meer ontoeganklike berggebiede bokant Kluitjieskraal buite Wolseley. Brandbestryders veg sedert Maandagmiddag teen die vlamme, en ongeveer 40 strukture is reeds verwoes. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die grootste probleem tans is die brandlyn wat vanuit die Suurvlakte tussen die berge naby Voëlvleidam brand en wat vererger word deur die ou denneplantasies en sterk wind:
# Swede beweeg al hoe nader aan lidmaatskap van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie nadat die Turkse parlement sy lidmaatskap goedgekeur het. Altesaam 287 uit 346 parlementslede het ten gunste van die lidmaatskap gestem. Swede het in Mei 2022 op dieselfde tyd as Finland aansoek gedoen om by NAVO aan te sluit. Dis ‘n geskiedkundige verskuiwing in sy sekuriteitsbeleid ná Rusland se inval in Oekraïne. Hongarye is die enigste lid wat nog Swede se aansluiting moet bekragtig. NAVO se sekretaris-generaal, Jens Stoltenberg, het die goedkeuring verwelkom en sê Swede se lidmaatskap sal die organisasie sterker maak.
# Motorsport: Madrid gaan Barcelona in 2026 vervang as gasheer vir die Spaanse Formule Een Grand Prix, met die kontrak wat tot 2035 duur. Gedeeltes van die nuwe baan sal deur die strate loop, en altesaam 110-duisend toeskouers sal per dag toegelaat kan word. Dit kan volgens berigte tot 140-duisend vergroot word, wat die baan een van die grootste op die F1-almanak sal maak. Die president en uitvoerende hoof van die sport, Stefano Domenicali, sê die aankondiging is die begin van ‘n opwindende nuwe hoofstuk vir F1 in Spanje.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-627-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-24-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….