Nuus 08:00
BULLETIN 26 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gaan vandag voort om getuienis aan te hoor
# Ondersoek word ingestel na die ontdekking van ANC-stembriewe by ‘n huis
# En krieket: Die Sunrisers Eastern Cape is vir die derde keer die SA20-kampioene
# Die Madlanga-kommissie hervat vandag sy openbare verhoor om bewerings van misdadigheid, korrupsie en politieke inmengery in die polisie en regstelsel te ondersoek. Die kommissie het sy tussentydse verslag op 17 Desember aan president Cyril Ramaphosa oorhandig. ‘n Woordvoerder, Jeremy Michaels, sê hulle gaan voort om getuienis aan te hoor van mense wat betrek word by bewerings deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en ander getuies. Hy sê die kommissie sal voortgaan om sy mandaat uit te voer:
# Transnet sê hy gaan voort met die modernisering van Suid-Afrika se hawens en om die land se posisie in streeks- en wêreldhandel te versterk. Dit volg nadat die staatsinstelling ‘n strategiese ooreenkoms met die Belgiese hawe-entiteite, Port van Antwerpen-Bruges Internasionaal en die Antwerpen/Vlaandere Hawe-opleidingsentrum onderteken het. Die ooreenkoms vestig ‘n raamwerk vir samewerking in uitnemendheid oor die bedryf van hawens, digitalisering, volhoubaarheid, die beplanning van infrastruktuur en die ontwikkeling van die streekskorriddor. Transnet sê die vennootskap bied hom wêreldwye beste praktyk, tegniese opleiding en die bepaling van maatstawwe om langtermyn institusionele vermoë in sy afdelings te vestig.
# Ondersoek word ingestel nadat stembriewe wat in die ANC se onlangse streeks-verkiesingskonferensie in Johannesburg gebruik is, by ʼn huis in Pretoria ontdek is. Die stembriewe hou vermoedelik verband met verlede maand se omstrede konferensie toe Loyiso Masuku bo Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, as streeksvoorsitter verkies is. ʼn Lid van die ANC-NUK en sameroeper van ontplooides in Gauteng, Khumbudzo Ntshavheni, sê ʼn omvattende verslag sal aan die betrokke partystrukture voorgelê word:
# Nieu-Seeland se polisie het bevestig dat ses mense wat na ʼn grondstorting by die gewilde Mount Maunganui vermis word, waarskynlik nie lewend gevind sal word nie. Onder die vermiste persone is twee tieners waarvan die jongste 15 is. Die polisie-superintendent Tim Anderson sê hulle moes gister reddingspogings laat vaar nadat ʼn kontrakbestuurder opgemerk het dat die oppervlak van die grondstorting moontlik onstabiel is:
# Krieket: Die Sunrisers Eastern Cape het hulle derde SA20-titel gewen toe hulle die Pretoria Capitals op ʼn volgepakte Nuweland in Kaapstad met ses paaltjies afgeransel het. Capitals het eerste gekolf en 158 vir sewe op die telbord geplaas. Dewald Brevis het 101 van 56 balle gemoker en Marco Jansen het drie paaltjies platgetrek. Daarna het Matthew Breetzke ʼn onoorwonne 68 aangeteken met Tristan Stubbs wat met 62 spog. Die Sunrisers het die teiken gehaal met vier balle oor. Sunrisers het nou drie van die vier SA20-toernooie gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-399-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-78-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….