Nuus 08:00
BULLETIN 25 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê regeringspogings om die ekonomie om te keer word ondermyn deur volgehoue hoë misdaadvlakke
# Die Suid-Afrikaans Weerdiens reik ‘n hittegolfwaarskuwing vir Gauteng uit
# En rugby, die Haaie bring einde aan die Stormers se onoorwonne Verenigde Rugby Kampioenskapsrekord
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regering se pogings om die ekonomie om te keer en die lewensgehalte van alle Suid-Afrikaners te verbeter, word ondermyn deur volgehoue hoë vlakke van misdaad, geweld en korrupsie. Ramaphosa het gepraat tydens die ANC nasionale uitvoerende komitee se jaarlikse Lekgotla in Boksburg, Ekurhuleni. Hy sê die regering het baie gedoen om die vermoëns, integriteit en geloofwaardigheid van wetstoepassingsagentskappe te herbou in die nasleep van staatskaping:
# COSATU het die aankondiging deur Chery South Africa Investment verwelkom dat hy Nissan se Rosslyn-aanleg in Pretoria gaan oorneem. Die federasie sê dit is ‘n belangrike mosie van vertroue in Suid-Afrika deur ‘n groot en groeiende Chinese motorvervaardiger. COSATU se woordvoerder Matthew Parks sê dit is van kritieke belang dat bestaande personeel op hul huidige diensvoorwaardes behou word:
Die algemene werkersvakbond GIWUSA het intussen die aankondiging deur Chery verwelkom. GIWUSA-president Mametlwe Sebei sê hy is tevrede met die onmiddellike behoud van werksgeleenthede vir die honderde werkers en hul gesinne wat onsekerheid in die gesig gestaar het. Hy het bygevoeg dat hierdie uitkoms ‘n bewys is van die krag van werkersolidariteit en die noodsaaklike rol van die vervaardigingsektor:
# Die Stad Ekurhuleni en die Gauteng Provinsiale Rampbestuursentrum waarsku inwoners om gereed te maak vir ‘n moontlike hittegolf reg deur die provinsie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag warm tot baie warm toestande van vandag af tot in die nuwe week, met die moontlikheid van enkele tot verspreide buie en donderbuie oor die sentrale en oostelike dele van die land. Die stad se woordvoerder vir Ramp- en Noodbestuur, William Ntladi, waarsku inwoners om die nodige voorsorgmaatreëls te tref:
# Rusland het gister nog ‘n grootskaalse aanval op Oekraïne se energiestelsel uitgevoer met ontploffings regdeur die nag in die hoofstad Kiëf. Nagenoeg 1,2-miljoen eiendomme landwyd is sonder krag gelaat te midde van wintertemperature onder vriespunt. Meer as drieduisend geboue was gisteraand steeds sonder verhitting met temperature rondom -10 grade Celsius. Die Russiese aanvalle is uitgevoer terwyl trilaterale VSA-bemiddelde gesprekke tussen Rusland en Oekraïne vir ‘n tweede dag in die Verenigde Arabiese Emirate voortgeduur het. Die onderhandelinge is later verdaag het sonder enige teken van ‘n ooreenkoms.
# En ten slotte rugbynuus: Die Haaie het gisteraand ‘n reuse-opskudding veroorsaak toe hulle die Stormers se onoorwonne rekord in die Verenigde Rugbykampioenskap beëindig het, met ‘n kliniese oorwinning van 30-19 op ‘n stampvol Kaapstad-stadion. Die historiese oorwinning is die Durban-span se eerste VRK-oorwinning uit vyf pogings in die Moederstad. Die Haaie het vier drieë, twee doelskoppe en twee strafskoppe aangeteken teenoor die Stormers se twee drieë, ‘n strafskop en ‘n doelskop. Die Haaie skuif nou van 14de na 11de op die VRK-punteleer, met die Stormers steeds bo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….